‘N BERIG WAT EK GELEES HET

Ek wil graag met jou iets deel wat ek een dag gelees het. Eintlik moet ek sê, iets wat ek geluister het maar hoe sal dit nou klink as ek sê dat ek iets in die koerant geluister het.

Ek het destyds die spesifieke koerant op band gekry.

Ek weet sommer dat daar eendag 'n tyd gaan kom dat ek die koerant met die tegnologiese ontwikkeling sommer self sal kan lees.

Die artikel het gegaan oor Billy Galligher. Ek hoop ek spel sy naam reg. As jy nie weet wie Billy Galligher is nie, Ek het ook nie geweet wie Billy Galligher is nie maar ek weet dit nou.

Hy was die (Ghuru) van kook in Suid-Afrika.

Hy het een aand by 'n robot stilgehou en toe 'n klop aan sy motor se ruit gehoor en toe hy kyk, toe skiet die man hom.

Toe hy in die hospitaal wakker word was hy 'n kwadrupleeg.

Die manier wat hy die hele traumatiese gebeurtenis gehanteer het, kan ek maar net beskryf as fenomenaal.

Hy vertel toe van die klein dingetjies wat hy moes leer om te hanteer.

Soos byvoorbeeld om Marmite op sy brood te sit. Verbeel jou die man wat eksotiese disse vir die adel van die wêreld voorberei het, kan nou nie eers vir homself 'n bietjie Marmite op 'n broodjie sit nie.

'n Ander ding wat nou vir hom 'n groot probleem geword het, is dat hy nou nie meer sy eie kantoor se deur kan oopmaak nie en dit is maar net twee van die klein dingetjies in sy lewe wat verander het.

Glo vir my, ek wat al in my lewe met heelwat parapleë en kwadrupleë te doen gekry het, kan vir jou met absolute oortuiging sê dat dit net twee van honderde probleme is waarmee die mense moet saamleef.

Die positiewe manier wat die man na die gebeurtenis, na die lewe kyk het my aangegryp.

Ek het net weer besef hoe maklik ons kla.

Toe ek nog gewerk het, was daar 'n man saam met wie ek gewerk het. Ek het by meer as een geleentheid vir myself gesê:

"Sakkie, jy gaan eendag gelukkig wees en dit belewe, dat daar twee of drie dae sal verby gaan, dat hy nie fout gaan vind met een of ander ding in sy lewe nie."

Daar is min dinge in die wêreld wat my so ontstel, as wanneer ek 'n Christen hoor kla. Kom ek vertel jou hoekom

Ek sê, ek is 'n Christen. Met ander woorde ek sê ek is deur God gered en ek is nou in Sy hand en Hy beheer nou my hele lewe.

As ek nou kla, sê ek eintlik vir die wêreld dat ek in die hand van God is maar dat Hy nie Sy werk behoorlik doen nie. Ek sê eintlik aan die wêreld dat my God maar 'n swak God is.

Wat sê die Bybel, met ander woorde, Wat sê ons Vader? Hoe moet ek en jy na die dinge wat met ons gebeur kyk?


 

2 Korintiërs 4
vanaf vers 16:

16Dit is daarom dat ek nooit moedeloos word nie. My uiterlike lewe mag afgebreek word en tot niet gaan, maar ek het 'n ander lewe binne-in my wat God my gegee het, en Hy maak hierdie lewe elke dag nuut. 17Die moeilikhede wat ek nou het, is nie so erg nie en hulle gaan verby. Maar hulle berei my voor vir die ewige seën wat God my sal gee, en dit is wonderliker as enigiets waarmee ek dit nou kan probeer vergelyk. 18Daarom konsentreer ek nie op die omstandighede wat ek nou om my sien nie, want hulle gaan verby. My aandag is gevestig op die dinge wat vir altyd sal bly, al kan ons hulle nou nog nie sien nie.

Ons huis in die hemel

5 Ons weet dat ons hier op aarde lewe soos iemand wat êrens tydelik tent opgeslaan het. As die tent weer afgeslaan word, dan het ons 'n permanente huis in die hemel, wat gebou is deur God self en nie deur mense nie. 2Terwyl ons nog hier in die tent woon, sien ons baiemaal met verlange uit na die dag wanneer ons in die permanente huis in die hemel sal woon. 3Wanneer daardie nuwe bestaan vir ons begin, sal ons wees soos mense wat nuwe klere gekry het om aan te trek sodat hulle nie meer nakend is nie. 4Want solank ons in die tent woon, kry ons swaar en sien ons uit na iets anders. Ons wil ook nie graag sonder klere wees nie—ons wil aangetrek wees. Ons wil hê die permanente lewe wat kom, moet 'n einde maak aan al hierdie dinge wat verbygaan. 5Dit is God wat besig is om ons voor te berei vir so 'n verandering en Hy het ons sy Heilige Gees gegee om die waarborg te wees dat Hy alles sal doen presies soos Hy beloof het.


6Ek is vol moed, al weet ek dat ons nog nie in ons huis by die Here ingetrek het solank ons nog hier op aarde woon nie. 7Maar dit is in die vertroue op Hom wat ek hier lewe, al het ons nog nie die dinge gesien wat Hy beloof het nie. 8Ek is so oortuig van hierdie dinge dat ek bly sal wees as ek uit hierdie lewe moet weggaan om by die Here te gaan woon. 9Daarom is dit my hoogste ideaal om vir Hom aanvaarbaar te wees, of ek nog in hierdie lewe is of nie."


 

'n Mens sou kon sê dis maklik om te praat as dit met jou goed gaan maar lees net hier van 'n paar dinge wat met hierdie man gebeur het, wat ek nou gekwoteer het.


 

2 Korintiërs 11 vanaf vers 24:

24Vyf maal het ek die Jode se straf van nege en dertig houe met 'n stok gekry, 25en drie maal het ek die Romeinse lyfstraf van slae met stokke gekry. Een maal het hulle my met klippe gegooi om my dood te maak. Dit het drie maal gebeur dat die skip waarop ek was, gesink het, en een van die kere was ek 'n hele nag en 'n dag in die see voor ek gered is. 26Hoe baie het ek nie te voet gereis nie. Ek moes deur gevaarlike riviere gaan en op paaie waar daar rowers was. Gevaar was daar orals, of ek nou onder my eie mense, die Jode, was of onder die ander nasies. Daar was gevaar in die stede maar ook in die onbewoonde dele en op see. Daar was die gevaar van mense wat gemaak het of hulle Christene is, maar in werklikheid vyande was. 27Harde werk en moegheid het ek geken en baie nagte sonder slaap. Ek het honger en dors gely en baiemaal nie genoeg gehad om te eet nie. Ek moes koue verduur en het nie altyd genoeg klere gehad om aan te trek nie.


 


 

Ek eindig met een van die twee verse wat ek altyd in my bediening my slagspreuk gemaak het.


 

Filippense 4 vers 4:

4Julle moet bly wees omdat julle aan die Here verbind is. Ek wil dit nog 'n keer sê: julle moet bly wees!


 

Judas 1:24-25
Aan Hom nou wat magtig is om julle vir struikeling te bewaar en julle sonder gebrek voor sy heerlikheid te stel met gejuig,

25.
aan die alleenwyse God, ons Verlosser, kom toe heerlikheid en majesteit, krag en mag, nou tot in alle ewigheid! Amen.


 

Groete

Sakkie

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.