ONS MOET NIE KLEINLIK WEES NIE

Ek het 'n e-pos ontvang waarin 'n man te velde trek teen verassing en 'n paar stellings maak, wat 'n mens selfs oor sou kon glimlag as dit nie was dat dit so 'n ernstige saak was nie.

Die eerste punt waarop ek wil reageer is die volgende:

Hy sê en ek haal hom aan:


 

"daar mag nie eers tatoeëermerke daarop aangebring word nie" (Lev 19:28: "Julle mag ook terwille van 'n dooie geen snye in julle vlees maak nie en geen in geprikte

tekening in julle vel maak nie. Ek is die HERE."


 

'n mens moet baie versigtig wees hoe en wanneer jy die skrif kwoteer.

Ek het gesê 'n mens kan glimlag as dit nie so 'n ernstige saak was nie.

As ek nou die vers in die Bybel net so in die selfde konteks as hy moet verstaan dan is ek en baie ander mense verlore, want ek het al 'n hele paar operasies gehad en het dus heelwat snye aan my.

Hierdie vers is deel van die Wet. Ons moet onthou ons is nie meer onder die wet nie maar onder die genade:


 

Galasiërs 3 vanaf vers 24:

24 Die wet was dus ons tugmeester na Christus toe, sodat ons geregverdig kan word uit die geloof.

25 Maar nou dat die geloof gekom het, is ons nie meer onder 'n tugmeester nie.

Galasiërs 3 vers 13:

13 Christus het ons losgekoop van die wet deur vir ons 'n vloek te word – want daar is geskrywe: Vervloek is elkeen wat aan 'n hout hang –

Romeine 6 vers 14:

14 Want die sonde sal oor julle nie heers nie; want julle is nie onder die wet nie, maar onder die genade.


 

Ek praat nie tatoeëer goed nie, ek sê net wees versigtig hoe jy die skrif kwoteer.

Dan maak die man nog 'n stelling maar hy vertel nie hoe die graf of grafte gelyk het nie. Ek haal hom aan:


 

"Mense wat getrou was in die HERE en in hulle geloof, sal begrawe word.

Abraham, Isak en Jakob is begrawe (Gen 25:9-10; 35:29 en 47:29)."


 

Weer maak hy 'n stelling wat volgens my mening nie heeltemal korrek is nie. Destyds het die kinders van God en ook baie heidene gewoonlik nie hulle dooies begrawe soos in die grond nie maar in grotte of dan spelonke soos ons dit in die skrif kry.


 

Genesis 49 :29-33

29 Daarna het hy hulle bevel gegee en aan hulle gesê: Ek word versamel by my volk. Begrawe my by my vaders in die spelonk wat op die stuk grond van Efron, die Hetiet, is

30 in die spelonk wat op die stuk grond van Magspel is, wat oos van Mamre lê, in die land Kanaan; die stuk grond wat Abraham van Efron die Hetiet, as eiendoms

graf gekoop het.

31 Daar het hulle Abraham begrawe en Sara sy vrou; daar het hulle Isak begrawe en Rebekka, sy vrou; en daar het ek Lea begrawe –

32 die stuk grond en die spelonk wat daarin is, wat gekoop is van die seuns van Het.

33 Toe Jakob klaar sy bevele aan sy seuns gegee het, trek hy sy voete terug op die bed en blaas die asem uit; en hy is by sy volksgenote begrawe.


 

As ek nou die Bybel moet verstaan soos die man dit klaarblyklik verstaan, beteken begrawe om in , of 'n grot/spelonk of dan in ons moderne tyd seker grafkelder begrawe te word. As dit was hoe ons die Bybel moes verstaan, sou 'n nis nie so 'n slegte keuse gewees het nie. 'n Nis sou dan kon deurgaan as 'n miniatuur grafkelder.

Dit is egter nie hoe ons die Bybel moet lees nie.

Terloops, selfs in Jesus se tyd het die gebruik nog wyd voorgekom. Jesus is ook nie in die grond, in 'n kis begrawe nie. Ook nie Lasarus nie. Beteken dit dan dat ons nou sondig omdat ons , ons dooies op 'n ander manier begrawe.

Die woord begrawe, beteken nie noodwendig " in 'n kis in die grond nie."

Ek glo dat jou en my God heeltemal tevrede met ons is, as ons, ons geliefdes met liefde en deernis begrawe of veras. Ek dink ook nie God wat die mens so lief het sal 'n probleem daarmee hê as ek my liggaam vir orgaanskenking of vir navorsing gee nie.

Wat my veral ontstel het is die volgende stelling wat die man gemaak het:


 

"As iemand uit vrye wil verkies om sy liggaam na afsterwe te laat verbrand,

kan God se Naam daar nie by betrek word nie."


 

As dit nie so skokkend was nie, sê ek weer sou 'n mens daaroor kon lag maar juis die stelling van die man het my gedwing om te reageer.

Wat dan nou van al die kinders van God wat, byvoorbeeld in geboue of motors verkool word?

Wat van al die vroeë Christene wat deur die Romeinse keisers verbrand is.


 

Hy gebruik die woorde "vrye wil" ek glo dit is juis om van die tameletjie af weg te kom.

Daar is egter nog 'n tameletjie wat hy seker nie raak gesien het nie en dit is die volgende. Dit lyk vir my of die man 'n probleem met as het.

Alhoewel ek nie die verheerlikte liggaam sien soos sommige mense nie. Sal dit nie vir my God 'n probleem wees, of dit as of stof is nie.

Wat ek nou sê, sê ek met die tong in die kies. Of soos my groot held Paulus dit sou stel. Nou praat ek soos 'n dwaas.

As dit 'n probleem sou wees, kan jy dink hoe groot die probleem sou wees met al die vroeë Christene wat vir die wilde diere gevoer was. As iemand 'n probleem het met as, dan is die probleem nog veel groter met leeu mis en ander diere wat al deur die eeue mense verskeur en opgevreet het. Om nie eens te praat van al die mense wat op see vergaan en deur visse opgevreet en uitgeskei is en deur die water van die see opgelos is nie.

Kom mense laat ons tog nie kleinlik word oor so 'n belangrike saak nie. Stof, as of mis of wat ook al. God sal nie 'n probleem met die opwekking van jou verheerlikte liggaam hê nie.

So ek dink nie verassing is vir God 'n probleem nie. Verassing sal jou nie uit die Hemel hou nie.

Ek gaan nie my siening oor die verheerlikte liggaam nou hier verduidelik nie maar ek wil darem net ook 'n paar verse uit God se Woord kwoteer:


 

1 Korinthiërs 15: 40

40 En daar is hemelse liggame en aardse liggame; maar die heerlikheid van die hemelse is anders as die aardse.

1 Korinthiërs 15: 44

44 'n Natuurlike liggaam word gesaai, 'n geestelike liggaam word opgewek. Daar is 'n natuurlike liggaam, en daar is 'n geestelike liggaam.

1 Korinthiërs 15: 49-50

En soos ons die beeld van die aardse gedra het, so sal ons ook die beeld van die hemelse dra.

50 Maar dit verklaar ek, broeders, dat vlees en bloed die koninkryk van God nie kan beërwe nie; ook beërwe die verganklikheid nie die onverganklikheid nie.


 

Ek wil nou iets sê en ek wys die vinger na niemand nie. Ek sê dit net sodat ons moet weet dat ons maar altyd baie versigtig moet wees voordat ons sommer 'n stelling wat iemand maak aanvaar, of agter enige een aangaan wat sê hy of sy is van die Here. Jesus sê:

Matteus
7
:21-23

21"Dit is ook nie almal wat My 'Here, Here, noem wat in God se nuwe ryk sal ingaan nie, maar dit is iemand wat doen wat my Vader in die hemel wil hê, wat daar sal ingaan. 22Op die dag van die oordeel sal daar baie mense wees wat na My sal roep en vra: 'Here, Here, is dit dan nie u boodskap wat ons vir die mense gebring het nie? Is dit nie u naam wat ons genoem het om duiwelse geeste uit mense uit te drywe nie? Is dit nie deur u naam te noem dat ons baie wonderwerke gedoen het nie?' 23Dan sal Ek vir hulle reguit sê: 'Ek het nooit met julle iets te doen gehad nie. Gee pad van My af, want julle was nooit aan God gehoorsaam nie!' "


 

Iemand het eenmaal 'n baie mooi stelling gemaak en hiermee sluit ek af. Die stelling is in Engels maar ek gaan poog om dit in Afrikaans vir jou te kwoteer:


 

" Jy kan nie praat waarvan jy nie weet nie. Jy kan nie iets meedeel wat jy nie self voel nie. Jy kan nie oordra wat jy nie self ervaar het nie. Jy kan nie gee wat jy nie self het nie.

Om te weet, om te voel, om te ervaar en om te gee, moet dit eers deel van jou wees."


 

Ek dink nie daar is iets waarop dit meer van toepassing is, as van my kindskap van God nie.


 

Mag dit vir jou 'n heerlike dag wees.


 

Judas 1:24-25
Aan Hom nou wat magtig is om julle vir struikeling te bewaar en julle sonder gebrek voor sy heerlikheid te stel met gejuig,

25.
aan die alleenwyse God, ons Verlosser, kom toe heerlikheid en majesteit, krag en mag, nou tot in alle ewigheid! Amen.


 

Groete

Sakkie

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.