SIMON, SLAAP JY?

Markus 14:32-42


 

Simon, slaap jy?


 

'n Mens moet maar nie te‚ grootpraterig, te‚ selfversekerd wees nie. Want as jy dan misluk, lyk dit veel slegter. As jy maar net stilgebly het en nie so selfverseker geklink het nie, sou jy nie so sleg lyk indien jy misluk nie.

Dis opvallend dat Jesus, volgens Markus se evangelie vir Petrus hier uitsonder. Johannes en Jakobus was ook aan die slaap, maar Jesus sonder vir Petrus uit as Hy by die groep kom. "Simon, slaap jy?" Dis asof Jesus wil sê: "Jy, Simon, wat 'n paar uur gelede so dapper verklaar het: … ek sal u nie in die steek laat nie", slaap jy? Watter vernedering moes dit nie vir Petrus gewees het dat hy wat so groot gepraat het, nou so gruwelik misluk nie.

Dis ook opvallend dat Jesus hom nie as Petrus nie, maar as Simon aanspreek. Daar waar hy lê en slaap, terwyl sy Meester in doodsangs worstel, is hy allermins die rots waarop Jesus kan staat maak. Ook Jesus se oproep om te waak en te bid, is tevergeefs. Petrus, die selfversekerde, is eenvoudig te moeg en te vaak om sy dapper woorde van vroeër gestand te doen.

Ja, dit help nie om te selfversekerd te wees of op jou eie vermoëns te vertrou nie. Wanneer 'n mens se geloof deur die vuur getoets word, help jou eie krag niks nie. Dan moet jy waak en bid ten einde behoue anderkant uit te kom.


 

Gebed: Bewaar my van selfversekerheid. Leer my om te waak en te bid.


 

Kopiereg 2003 Radiokansel.


 

Besoek ons webblad by www.radiokansel.co.za


 

Judas 1:24-25
Aan Hom nou wat magtig is om julle vir struikeling te bewaar en julle sonder gebrek voor sy heerlikheid te stel met gejuig,

25.
aan die alleenwyse God, ons Verlosser, kom toe heerlikheid en majesteit, krag en mag, nou tot in alle ewigheid! Amen.


 

Groete

Sakkie

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.