Ek wil met jou deel wat nou die dag weer by my opgekom het toe ek hierdie gedeelte in die Bybel gelees het.
Baie mense het al oor die gedeelte gepraat en altyd kom daar maar weer iets nuuts te voorskyn, want jy sien daar is 'n ou maar baie waar gesegde, wat sê:
"God se Woord is oud maar bly altyd nuut."
Lees eers die gedeelte.
Mat 8:23 En toe Hy in die skuit klim, het sy dissipels Hom gevolg.
Mat 8:24 En daar het 'n groot storm op die see gekom, sodat die skuit toe was onder die golwe; maar Hy was aan die slaap.
Mat 8:25 Daarop kom sy dissipels en maak Hom wakker en sê: Here, red ons, ons vergaan!
Mat 8:26 En Hy sê vir hulle: Waarom is julle bang, kleingelowiges? Toe staan Hy op en bestraf die winde en die see, en daar het 'n groot stilte gekom.
Die eerste ding wat my weer getref het is dit:
Ons spog dat 70% van Suid-Afrika se mense is Christine en waar dit goed gaan kan 'n mens ook sien dat dit so is. Soos ook hier:
Mat 8:23 En toe Hy in die skuit klim, het sy dissipels Hom gevolg.
Al Sy dissipels het Hom in die skuit gevolg, want Hy is die Here en die son skyn en die see is mooi kalm.
Soos met die dissipels verander die prentjie vinnig as die storms toeslaan.
As Aids vir ons 'n verskrikking word, spog ons oor die radio oor hoeveel miljoen kondome ons al reeds versprei het en ons die Christene leer dan ons Christen kinders om veilige seks te beoefen.
Terwyl as die 70% Christene in Suid-Afrika Jesus regtig gevolg het, sou as ek nou my somme reg doen, ons Aids probleem baie kleiner gewees het en sou ons waarskynlik met die minste Aids in die wêreld gesit het.
Toe en laat ons nou maar die gruwel beskryf vir wat dit is. Toe lewe in Suid-Afrika 'n probleem in sekere gevalle word, wettig ons moord en ons noem dit vrywillige aborsies.
Jy sien, gesonde verstand moes vir hierdie dissipels gesê het, dat met die Here in die boot, is daar nie 'n manier dat die boot kan sink nie. God kan mos nie verdrink nie!
Het jy gesien wat is Jesus se eerste reaksie toe hulle Hom wakker maak?
Hy spring nie op en maak gou die storm stil nie. O nee!
Hy berispe Sy dissipels maar selfs in die berispe van Sy dissipels is daar 'n kalm rustigheid.
In my gedagtes sien ek, hoe dat Jesus rustig regop gaan sit. Niks gepla deur die storm nie en eers aandag gee aan die werklike probleem van Sy dissipels, naamlik hulle ongeloof:
Mat 8:26 En Hy sê vir hulle: Waarom is julle bang, kleingelowiges? Toe staan Hy op en bestraf die winde en die see, en daar het 'n groot stilte gekom.
Jy sien, as jy Jesus aangeneem het, dan leef Hy in jou:
Gal 2:20 Ek is met Christus gekruisig, en ék leef nie meer nie, maar Christus leef in my. En wat ek nou in die vlees lewe, leef ek deur die geloof in die Seun van God wat my liefgehad het en Homself vir my oorgegee het.
Nie net leef Hy in jou nie maar Hy is ook om jou. Jy is, jy kan maar sê, met Christus
aangetrek:
Gal 3:27 want julle almal wat in Christus gedoop is, het julle met Christus beklee.
Gal 3:28 Daar is nie meer Jood of Griek nie, daar is nie meer slaaf of vryman nie, daar is nie meer man en vrou nie; want julle is almal een in Christus Jesus.
Christus is in en om jou en God kan nie verdrink nie.
Volgende keer as die storm om jou opsteek, sê dan in die geloof, want onthou. Jesus
het nie 'n probleem met die storm gehad nie. Jesus het 'n probleem met hulle
kleingeloof gehad.
Kyk dan na die storm in die geloof en bestraf dan die storm in die Naam van Jesus en
sê.
God kan nie afbetaal word nie. Of,God kan nie bankrot speel nie. Of wat ook al die
geval is, God kan nie verdrink nie.
Dan sal gebeur wat ook hier gebeur het.
Die laaste gedeelte van Mat 8:26: en daar het 'n groot stilte gekom.
Dan sal die storm ook stil word en dit sal ook stil word in jou hart, want wat ook al
daarna gebeur jy sal weet.
Rom 8:28 En ons weet dat vir hulle wat God liefhet, alles ten goede meewerk, vir hulle wat na sy voorneme geroep is.
Het jy nog iets gesien?
Jesus vra vir hulle, hoekom hulle bang is.
Mat 8:26 En Hy sê vir hulle: Waarom is julle bang, kleingelowiges? ...
Met Jesus in die skuit, of dan in jou lewe hoef jy mos nie bang te wees nie, want God kan nie verdrink nie.
Daarom, omdat jy God toelaat om jou lewe te beheer. Daarom sal jy ook maklik kan sê, as mense jou vra, hoe dit met jou gaan:
"God is op die troon en die saak loop mooi."
Judas 1:24-25
Aan Hom nou wat magtig is om julle vir struikeling te bewaar en julle sonder gebrek voor sy heerlikheid te stel met gejuig,
25.
aan die alleenwyse God, ons Verlosser, kom toe heerlikheid en majesteit, krag en mag, nou tot in alle ewigheid! Amen.
No comments:
Post a Comment
Note: Only a member of this blog may post a comment.