Goeiedag.
Ek wil vir jou baie, baie dankie sê, dat ek in 2010 die eer gehad het om vir jou pos te stuur en met jou so te deel wat ons Here in my hart laat opkom het om met jou te deel.
Ek stuur as ons Here wil en ons lewe, my laaste pos aan jou op die 9de/10de
Desember en dan weer my eerste op die 9de/10de Januarie.
Elke jaar vandat ons Here my die eer aangedoen het om hierdie bediening uit te lewe, was net meer geseënd as die vorige jaar en 2010 was dan ook nie anders nie.
Danksy die eer wat ek gehad het om saam met jou langs hierdie weg 'n medewerker vir Christus te wees, het daar feitelik op 'n daaglikse basis mense by my aangesluit.
Ek vra dit elke jaar en omdat daar elke jaar baie nuwe mense aansluit vra ek dit maar weer.
As jy vir my pos stuur, moet groot asseblief nie vir my "slide shows," "video clips," foto's, of enige iets met "graphics" stuur nie.
Jaws, die program wat my rekenaar met my laat praat, kan dit nie lees nie en derhalwe maak ek dit nie eens oop nie. Ek "delete" dit net eenvoudig.
Vervolgens.
Deur die jaar het baie, baie mense aan my geskryf en my bemoedig, deur byvoorbeeld vir my te vertel, wat 'n spesifieke dagstukkie vir hulle beteken het en dit was altyd vir my tot groot stigting. Ek het dit toe vir die persoon gesê en ek sê dit nou weer met 'n groot heerlikheid in my hart.
Baie dankie aan almal wat sulke pos aan my gestuur het.
Daar was natuurlik ook die gene wat gevoel het hulle moet aan my skryf omdat hulle oor hierdie of daardie saak met my verskil het en dit is, om dit so te stel, van die vroegste tye af eintlik deel van Christen wees.
Want soms in my mensheid, kyk ek iets mis wat iemand anders, wat beter gekyk het, raakgesien het en soms is dit anders om.
Soms, omdat mense op 'n sekere manier groot geword het wil hulle dinge nie anders sien nie al staan dit, om dit so te stel, op wit en swart in die Woord.
Soms, soos in die geval wat ek nou met jou gaan deel, is nie een regtig verkeerd nie maar hulle waarde bepalings, is net nie dieselfde nie.
Bárnabas en Saulus/Paulus word in die Woord, deur ons Here baie hoog aangeskryf.
Ons lees byvoorbeeld.
HAN 13:2
En terwyl hulle besig was om die Here te dien en te vas, het die Heilige Gees gesê: Sonder nou Bárnabas en Saulus vir My af vir die werk waarvoor Ek hulle geroep het.
HAN 13:3 En toe hulle gevas en gebid het en hulle die hande opgelê het, laat hulle hul gaan.
Hierdie twee manne het toe sulke uitstaande werk vir ons Here gedoen, dat die mense hulle by geleentheid as gode wou aanbid.
Ons lees.
HAN 14:11 En toe die skare sien wat Paulus gedoen het, verhef hulle hul stem en sê in Likaónies: Die gode het soos mense geword en neergedaal na ons toe.
HAN 14:12 En hulle het vir Bárnabas Júpiter genoem, en vir Paulus Mercurius, omdat hy die woordvoerder was.
HAN 14:13 En die priester van Júpiter wie se tempel voor hulle stad was, het stiere en kranse na die poorte gebring en wou saam met die skare offer.
HAN 14:14 Maar toe die apostels, Bárnabas en Paulus, dit hoor, het hulle hul klere geskeur en onder die skare ingespring en geroep
HAN 14:15 en gesê: Manne, waarom doen julle hierdie dinge? Ons is net sulke mense soos julle, en ons verkondig die evangelie dat julle jul van hierdie nietige dinge moet bekeer tot die lewende God wat die hemel en die aarde en die see en alles wat daarin is, gemaak het.
Toe, by geleentheid, omdat hulle in hulle mensheid, nie dieselfde waardebepalings gehad het nie. Ek dink dat Paulus 'n en ek kan nou nie op die eintlike woord wat ek soek kom nie, so ek sal maar skryf, dat na my mening, het Paulus strenger waardebepalings gehad as Bárnabas.
Ons lees en onthou nou dat die Heilige Gees hierdie twee manne as 'n span, jy kan maar sê, met die hand uitgesoek het.
HAN 15:36 En 'n paar dae daarna het Paulus vir Bárnabas gesê: Laat ons teruggaan en ons broeders besoek in al die stede waarin ons die woord van die Here verkondig het, om te sien hoe dit met hulle gaan.
HAN 15:37 En Bárnabas wou Johannes, wat Markus genoem word, saamneem.
HAN 15:38 Maar Paulus het dit nie reg geag om hóm saam te neem wat van Pamfílië af hulle verlaat het en nie saam met hulle na die werk gegaan het nie.
HAN 15:39 Daar het toe 'n verbittering ontstaan, sodat hulle van mekaar geskei het; en Bárnabas het Markus saamgeneem en na Ciprus uitgeseil.
HAN 15:40 Maar Paulus het Silas gekies en afgereis nadat hy deur die broeders aan die genade van God opgedra was.
So as mense van my verskil het, het ek dit gewoonlik in die lig van, ons het nie dieselfde waarde bepalings nie gesien.
Soms egter, het ek ook pos gekry, waar ek tot die hel verdoem was of dan, soos die mees onlangse skrywe aan my, wat ek met jou gaan deel, tenminste in hierdie lewe in satan se kamp geplaas word.
Nou in so 'n geval, as iemand so iets sê, is een ding vir my baie duidelik.
Ons, volgens die persoon se eie getuienis, ons verskil nie net in verstaan van die Woord nie, ons is ook nie aan dieselfde kant nie en daar is uiteindelik maar net een van twee kante.
Mat 12:30 Hy wat nie met My is nie, is teen My; en hy wat nie saam met My versamel nie, verstrooi.
Ek deel nou met jou die persoon se skrywe, waar hy my duidelik laat verstaan het, dat ek 'n valse profeet is.
Nou wil ek sommer dadelik sê, dat as jy sy skrywe aan my lees, jy sal onthou, dat ek 'n groot aanhanger van Billy Graham is.
Hy skryf:
"Geagte Mnr. Parsons.
Met betrekking tot u genoemde artikel het ek die volgende groot probleem.
U haal aan in u artikel die name van twee valse profete, Billy Graham en Joel Osteen. Dan verwys u ook mense om na die TV kanaal TBN te kyk waar dit wemel van valse profete en gierigaards.
Daar is ʼn Engelse spreekwoord wat sê: "Birds with a feather flock together."
Met alle respek gesê vra ek dat u my asseblief van u lys van e-mail contacts afhaal.
Dankie."
Ek gebruik hierdie man se optrede, net om te probeer wys, dat 'n mens baie versigtig moet wees, voordat jy iemand sommer 'n valse profeet noem.
Want, ek lees byvoorbeeld.
Mrk 9:38 Toe antwoord Johannes Hom en sê: Meester, ons het iemand gesien wat in u Naam duiwels uitdryf en wat ons nie volg nie; en ons het hom belet, omdat hy ons nie volg nie.
Mrk 9:39 Maar Jesus sê: Moet hom nie belet nie, want daar is niemand wat 'n krag in my Naam sal doen en gou van My sal kan kwaadspreek nie;
As ook.
FIL 1:15 Sommige preek Christus wel ook uit afguns en twis, maar ander ook uit welwillendheid:
FIL 1:16 die eerste verkondig Christus uit naywer, nie met suiwer bedoelinge nie, met die mening om aan my boeie verdrukking toe te voeg;
FIL 1:17 maar die ander uit liefde, omdat hulle weet dat ek bestem is tot die verdediging van die evangelie.
FIL 1:18 Maar wat maak dit? In alle geval, op allerlei wyse, of dit onder 'n skyn of in waarheid is, word Christus verkondig; en hierin verbly ek my en sal ek my ook verbly.
Ek het hierdie met jou gedeel, net om vir jou te sê. As ek met iemand wat die Evangelie aanbetref verskil, moet ek voordat ek die persoon antwoord onthou, dat ons Here van my in so 'n geval verwag.
KOL 4:6 Laat julle woord altyd aangenaam wees, met sout besprinkel, sodat julle kan weet hoe julle iedereen moet antwoord.
Dan soos wat die skrywe wat ek hierna vir jou stuur, duidelik weer uitwys.
Moet nie sommer goedsmoeds alles wat in jou "inbox" beland met ander deel nie.
Dit sal baie goed wees, as jy eers daaroor sal bid, voordat jy dit uitstuur.
Ek het dit al voorgestel en ek wil dit dan nou weer doen.
'n Goeie maatstaf om te gebruik, voordat jy iets met iemand anders deel is die volgende.
FIL 4:8 Verder, broeders, alles wat waar is, alles wat eerbaar is, alles wat regverdig is, alles wat rein is, alles wat lieflik is, alles wat loflik is—watter deug en watter lof daar ook mag wees, bedink dit.
As die e-pos wat jy wil stuur aan hierdie kriteria voldoen, kan jy dit met 'n groot
lekker in jou hart met ander deel.
Nogmaals baie dankie dat ek saam met jou vir ons Here mag werk.
Ek bid die seën van ons Here oor jou in hierdie Christus fees af en mag jy ook vir baie
om jou 'n groot seën wees.
Mag 2011 die wonderlikste jaar wees, wat jy nog ooit belewe het.
Judas 1:24-25
Aan Hom nou wat magtig is om julle vir struikeling te bewaar en julle sonder gebrek voor sy heerlikheid te stel met gejuig,
25.
aan die alleenwyse God, ons Verlosser, kom toe heerlikheid en majesteit, krag en mag, nou tot in alle ewigheid! Amen.
No comments:
Post a Comment
Note: Only a member of this blog may post a comment.