Omdat ons Hom sal sien soos Hy is


 

Iemand skryf en vra die volgende:

"Groei kinders in die hemel?"

Hier is dan hoe ek na hierdie saak kyk.

Die Woord gee ons nie 'n direkte antwoord op hierdie vraag nie. So ek moet antwoord, dat ek nie klinkklare bewyse het van hoe ons gaan verander, as ons aan die anderkant van die graf arriveer nie.

Dit gesê, wil ek tog met jou 'n gedeelte uit die Woord deel, wat, so lyk dit vir my, die sluier rondom hierdie vraag lig maar voordat ek daarby kom, net die volgende.

Daar is by my absoluut geen twyfel nie, dat alle kinders wat nog nie die toerekenbaarheid stadium in hulle lewens bereik het nie en gesterf het, by ons Here in die Hemel is.

Die toerekenbaarheid ouderdom, soos ek dit verstaan is, sodra 'n kind daardie stadium in haar/sy lewe bereik het, dat die persoon 'n keuse vir of teen ons Here kan maak en onthou, om nie te kies nie, is om teen ons Here te kies. Want, wie nie vir Jesus is nie, is teen Hom. In die verband lees ek.


 

Mat 12:30 Hy wat nie met My is nie, is teen My; en hy wat nie saam met My versamel nie, verstrooi.


 

Om terug te kom na wat ek gesê het, dat alle kinders wat nog nie toerekenbaar is nie en sterf, dat hulle in die Hemel is.

Jesus sê in die verband byvoorbeeld.


 

Mat 18:1 In daardie uur het die dissipels na Jesus gekom en gesê: Wie is tog die grootste in die koninkryk van die hemele?

Mat 18:2 Toe roep Jesus 'n kindjie na Hom en laat hom in hulle midde staan

Mat 18:3 en Hy sê: Voorwaar Ek sê vir julle, as julle nie verander en soos die kindertjies word nie, sal julle nooit in die koninkryk van die hemele ingaan nie!


 

Is dit nie wonderlik nie?

Toe hulle wou weet wie die grootste is, toe wys Jesus hulle 'n klein kindjie.

Om terug te kom na die vraag hier bo wat aan my gestuur was:

"Groei kinders in die hemel?"

In wat ek nou gaan sê, moet jy asseblief in gedagte hou, dit is net my opinie.

My groot held Paulus sê by geleentheid, nadat hy 'n stelling gemaak het.


 

1KOR 7:40 … volgens my gevoele. En ek meen dat ek ook die Gees van God het.


 

So in hierdie geval sê ek ook maar:

Ek sê dit, volgens my gevoele. En ek meen dat ek ook die Gees van God het.

Ons lees in die Woord.


 

1JHN 3:2 Geliefdes, nou is ons kinders van God, en dit is nog nie geopenbaar wat ons sal wees nie; maar ons weet dat ons, as Hy verskyn, aan Hom gelyk sal wees, omdat ons Hom sal sien soos Hy is.


 

As ons wat nog in hierdie lewe is wanneer Jesus gaan verskyn, "aan Hom gelyk sal wees," is dit vir my net logies, dat iemand wat Jesus aan die anderkant van die graf ontmoet, ook aan Hom gelyk sal wees en dit geld na my mening, vir babas reg deur tot by die oudste persoon wat as kind van ons Here aan die anderkant van die graf vir Jesus ontmoet.

So, nee ek glo nie babas groei aan die anderkant van die graf nie, hulle is aan Jesus gelyk. Net so word bejaarde mense ook nie geleidelik jonger nie. Hulle is aan Jesus gelyk.

Wat en hoe dit plaasvind weet ek nie maar die verandering gaan plaasvind.

Dit geld na my mening vir alle kinders van ons Here. Ook hulle wat byvoorbeeld, wreed vermink, verbrand, deur wilde diere opgevreet of soos ek wat blind is, 'n gebrek het.

Prys die Here!!!

Ons sal aan Hom gelyk wees!!!

Dit is hoe ek die Woord na aanlyding van (1JHN 3:2) verstaan.


 

1JHN 3:2 Geliefdes, nou is ons kinders van God, en dit is nog nie geopenbaar wat ons sal wees nie; maar ons weet dat ons, as Hy verskyn, aan Hom gelyk sal wees, omdat ons Hom sal sien soos Hy is.


 

Hoe heerlik om daardie ou koortjie te kan sing.


 

When we all get to Heaven,

What a day of rejoicing that will be.

When we all see Jesus,

We'll sing and shout the victory.


 

Want my vriendin/vriend ons sal nie meer babas,oumense, vermink, gestremd, of wat ook al wees nie!!!

Ons sal volmaak aan ons Jesus gelyk wees!!!

Uiteindelik en hoe heerlik, is dit al wat saak maak.


 


 

Judas 1:24-25
Aan Hom nou wat magtig is om julle vir struikeling te bewaar en julle sonder gebrek voor sy heerlikheid te stel met gejuig,

25.
aan die alleenwyse God, ons Verlosser, kom toe heerlikheid en majesteit, krag en mag, nou tot in alle ewigheid! Amen.


 

Groete

Sakkie

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.