Ek wil graag met jou deel wat ek weer ontdek het toe ek die gedeelte gelees het.
Hier volg die gedeelte:
JHN 9:1
En toe Hy verbygaan, sien Hy 'n man wat blind was van sy geboorte af.
JHN 9:2
En sy dissipels vra Hom en sê: Rabbi, wie het gesondig, hierdie man of sy ouers, dat hy blind gebore is?
JHN 9:3
Jesus antwoord: Hy het nie gesondig nie, en sy ouers ook nie; maar die werke van God moet in hom openbaar word.
JHN 9:4
Ek moet die werke doen van Hom wat My gestuur het, so lank as dit dag is; die nag kom wanneer niemand kan werk nie.
JHN 9:5
So lank as Ek in die wêreld is, is Ek die lig van die wêreld.
JHN 9:6
En toe Hy dit gesê het, spuug Hy op die grond en maak klei van die spuug en smeer die klei aan die oë van die blinde man
JHN 9:7
en sê vir hom: Gaan was jou in die badwater Silóam, wat vertaal word: Uitgestuur. En hy het gegaan en hom gewas; en hy het siende teruggekom.
Die eerste ding wat ek hier sien, is getrou aan Sy karakter, het Jesus nie die mens met 'n probleem wat op Sy pad gekom het, net so aan sy eie lot oorgelaat nie.
As ek met 'n probleem vir Jesus nader, kan ek seker wees, Hy sal my Sy volle aandag gee.
JHN 9:1
En toe Hy verbygaan, sien Hy 'n man wat blind was van sy geboorte af.
Onmiddellik kom daar ook iets anders na vore in die gedeelte:
JHN 9:2
En sy dissipels vra Hom en sê: Rabbi, wie het gesondig, hierdie man of sy ouers, dat hy blind gebore is?
Vir Sy dissipels het die man nie net 'n probleem nie, nee hy of sy ouers is ook die oorsaak van die probleem.
Baie keer sien ons byvoorbeeld 'n bedelaar en baie maklik sê ons dan, dat dit sommer slegtigheid is. Ek weet selfs van gevalle waar mense hulleself geblameer het vir iets wat in hulle lewens gebeur het, waarmee hulle niks te doen gehad nie.
Dan was daar ook die keer toe ek 'n diens in Port Elizabeth waargeneem het en 'n man 'n blinde duiwel uit my wou dryf.
Die meeste van ons, sodra ons 'n probleem sien, wil ons van daardie molshoop 'n berg maak.
As ek as voorbeeld van so 'n bietjie galge humor mag gebruik maak.
Daar gaan ek na Port Elizabeth, op uitnodiging van die Pastoor van die gemeente om die Evangelie te verkondig en 'n man sien ek is blind en storm my en wil net daar en dan 'n blinde duiwel uit my dryf.
Kyk nou wat gebeur in hierdie geval.
Die dissipels sien 'n probleem en wil terstond die probleem nog groter maak. Hulle wil sonde ook nog bysit maar kyk vir ons Jesus.
Hy kyk by die man se gebrek verby en sien 'n wonderwerk wat wag om te gebeur.
Partykeer voel jy dalk ook soos 'n probleem wat net groter gaan word.
Gee nou dan net volkome oor in die hand van Jesus, wat jou so lief gehad het, dat Hy bereid was om vir jou te sterf en as satan jou wil wysmaak dat Hy nie meer in jou belangstel nie, dan gebruik jy net jou gesonde verstand en sê vir jouself.
"Dit is heeltemal onsinnig om te dink dat Jesus, na alles wat Hy vir my deurgemaak het, my nie Sy volle aandag sal gee nie, as ek met my probleem na Hom toe gaan nie."
Dan bestraf jy satan in die Naam van Jesus, want hy is 'n dief wat jou vrede wil steel en Jesus wil jou baie graag help.
Jesus sê dan ook in die verband:
JHN 10:10
Die dief kom net om te steel en te slag en te verwoes. Ek het gekom, dat hulle lewe en oorvloed kan hê.
JHN 10:11
Ek is die goeie herder. Die goeie herder lê sy lewe af vir die skape.
So as jy 'n probleem het, wat jy voel jou wil oorweldig. Neem die probleem na Jesus,
want glo vir my, by Hom is daar werklik vrede.
Geen wonder dan ook nie, dat God in Sy woord, van ons wonderlike Jesus sê:
Jes 9:5
Want 'n Kind is vir ons gebore, 'n Seun is aan ons gegee; en die heerskappy is op sy skouer, en Hy word genoem: Wonderbaar, Raadsman, Sterke God, Ewige Vader, Vredevors—
Jes 9:6
tot vermeerdering van die heerskappy en tot vrede sonder einde, op die troon van Dawid en oor sy koninkryk, om dit te bevestig en dit te versterk deur reg en deur geregtigheid, van nou af tot in ewigheid. Die ywer van die HERE van die leërskare sal dit doen.
Nou moet jy net nog dit ook vandag besef.
As jy Jesus aangeneem het as jou Verlosser en Saligmaker, maak dit nie saak hoe vrot jou verlede was nie. Dit maak nie saak wat jou probleme op die oomblik is nie.
Jesus sê vandag vir jou:
Mat 11:28
Kom na My toe, almal wat vermoeid en belas is, en Ek sal julle rus gee.
In wat ek nou gaan sê, praat ek nie van hoorsê nie, ek beleef dit daagliks.
Ek sê nou nie dat jou lewe nou net maanskyn en rose gaan wees nie maar as jy dit werklik glo en uitleef wat ek nou met jou gedeel het, sal jy daardie heerlike vrede in jou hart hê, wat net van ons Here af kan kom.
JHN 14:27 Vrede laat Ek vir julle na, my vrede gee Ek aan julle; nie soos die wêreld gee, gee Ek aan julle nie. Laat julle hart nie ontsteld word en bang wees nie.
Is dit nie heerlik om dit te weet nie?
Nou kan jy in volkome vrede die res van hierdie dag en die res van jou lewe geniet.
Judas 1:24-25
Aan Hom nou wat magtig is om julle vir struikeling te bewaar en julle sonder gebrek voor sy heerlikheid te stel met gejuig,
25.
aan die alleenwyse God, ons Verlosser, kom toe heerlikheid en majesteit, krag en mag, nou tot in alle ewigheid! Amen.
Groete
Sakkie
No comments:
Post a Comment
Note: Only a member of this blog may post a comment.