DIE VERKEERDE KWOTEERING VAN DIE BYBEL

Ek het die naweek weer iets gehoor wat my weer opnuut so gehinder het dat ek voel ek moet die keer daaroor praat al is dit dan net om dit van my hart af te kry en te weet ek het nie stil gebly nie.

Terloops, indien ek vergeet, ek maak hier gebruik van die 1953 vertaling en die Lewende Bybel.

Mense kwoteer die Bybel baie keer verkeerd maar daar is drie gedeeltes in die Bybel wat myns insiens die meeste verkeerd gekwoteer word.

Toe die een nou weer die naweek deur 'n groot prediker verkeerd gekwoteer word, het ek net gevoel nou moet ek met iemand oor hierdie verkeerde kwotering van die Bybel praat. Nou praat ek maar met jou en kry dit so van my hart af.

Die eerste een waaroor ek wil praat en dit is ook die een wat weer die naweek sy lelike kop uitgesteek het, is die volgende:

Noag het 3 seuns gehad, naamlik Sem Gam en Jafet.

Noag het eendag dronk geword en kaal aan die slaap geraak.

Sy jongste seun, Gam, kom toe op hom af in die toestand en inplaas daarvan dat hy iets doen omtrent die toestand wat sy pa in was, los hy hom net so en gaan vertel dit vir sy broers.

Bykans sonder uitsondering kry ek dit dat die gewone lidmaat in die kerk vir jou sal sê dat Noag toe vir Gam vervloek het en daarmee kan ek nog saamleef maar dat daar predikers en herders van gemeentes is wat dieselfde fout maak, dink ek is onverskoonbaar.


 

Genesis
9 vanaf vers 20:


20Noag was iemand wat die grond bewerk het en daarom het hy begin om 'n wingerd te plant. 21Hy het van die wyn gedrink en so dronk geword dat hy kaal in sy tent gelê het. 22Toe Gam, die pa van Kanaan, sien hoe Noag daar kaal lê, het hy dit vir sy twee broers buitekant gaan vertel. 23Sem en Jafet neem toe 'n mantel en hou dit agter hulle rug vas en loop toe agteruit in die tent in met hulle gesigte weg van hulle pa af sodat hulle hom nie so kaal moes sien nie. So het hulle hom met die mantel toegemaak. 24Toe Noag uit sy dronk slaap wakker skrik en agterkom wat sy jongste seun gedoen het, 25sê hy:

"Mag God Kanaan vervloek!

Mag hy sy broers se slaaf wees,

die laagste soort slaaf wat daar is!"


26Toe sê hy ook:

"Prys die Here, die God van Sem

en mag Kanaan die slaaf van Sem word.


27Mag God vir Jafet 'n groot nageslag gee

en mag Jafet vreedsaam by Sem woon

en mag Kanaan sy slaaf wees."

Noag het nie vir Gam vervloek nie maar vir Gam se seun Kanaan.


 

Die tweede een wat ek wil noem, is wat ek die "3 sindroom" noem.

Jy sien dit op Kersfees kaarte en jy sien dit in opvoerings en jy hoor dit selfs by herders en predikers en dit is dat daar 3 wyse manne uit die ooste gekom het.

Nêrens in die Bybel lees ons van drie wyse manne nie.


 

Matteus 2 vanaf vers 1 [1953 vertaling]:

En toe Jesus te Betlehem in Judéa gebore is, in die dae van koning Herodes, het daar wyse manne uit die Ooste in Jerusalem aangekom

2 en gesê: Waar is die Koning van die Jode, wat gebore is?


 

Die vertaling wat ek gewoonlik gebruik, wat 'n baie nuwer vertaling en volgens my persoonlike smaak 'n beter vertaling is, sê dit as volg:


 

Matteus 2 vanaf vers 1 [Die Lewende Bybel]:

Dit was in Betlehem in Judea dat Jesus gebore is in die tyd toe Herodes koning was. Nie lank daarna nie het daar geleerdes uit die ooste in Jerusalem aangekom. 2"Waar is die Jode se koning wat nou kort gebore is?" het hulle gevra. "Ons het sy ster in die ooste gesien en nou het ons aan Hom eer kom bewys."


 

Die derde verkeerde kwotering van die Bybel is vir my persoonlik die ergste van almal. Dit is vir my snaaks dat herders en predikers nie meer hieroor praat en die verskriklike fout wat mense maak korrigeer nie.

Ek gaan dit demonstreer met 'n geval wat werklik gebeur het.

Ek was een aand in 'n diens, dit was as ek reg onthou die eerste van 'n reeks dienste van 'n evangelisasie veldtog en daar was nie baie mense gewees nie.

Die persoon wat die sange gelei het, maak toe die volgende stelling:

"Vanaand is die banke nog maar baie leeg maar ons maak soos die Bybel sê dat ons moet doen. Ons roep die dinge wat nie bestaan nie as of hulle reeds bestaan. Môreaand gaan die banke almal vol wees."

Nêrens in die Bybel staan dit dat ons die dinge wat nie bestaan nie moet roep as of dit reeds bestaan nie.

Daar is 'n vers in die Bybel wat wel sê dat God die dinge wat nie bestaan nie, roep asof hulle bestaan.

Ons moet soos Abraham glo in die Een wat dinge roep wat nie bestaan nie, asof hulle bestaan.

Ek gaan eers 'n ouer vertaling kwoteer, naamlik die 53 vertaling en dan gaan ek die Bybel wat ek gebruik kwoteer.


 

Romeine 4 vanaf vers 17 [1953 vertaling]:

17soos geskrywe is,: Ek het jou 'n vader van baie nasies gemaak- voor die aangesig van God in wie hy geglo het, wat die dode lewend maak en die dinge wat nie bestaan nie, roep asof hulle bestaan.

18 Hy het teen hoop op hoop geglo dat hy vader sou word van baie volke volgens wat gesê was: So sal jou nageslag wees.

19 En sonder om te verswak in die geloof het hy, al was hy omtrent honderd jaar oud, nie gelet op sy eie liggaam wat alreeds verstorwe was, en op die verstorwe toestand van die moederskoot van Sara nie.

20 En hy het nie deur ongeloof aan die belofte van God getwyfel nie, maar hy is versterk deur die geloof en het aan God die eer gegee.

21 en was ten volle oortuig dat Hy ook die mag het om te doen wat Hy beloof het.


 

Romeine 4 vanaf vers 17 Die Lewende Bybel

17In die Skrif staan daar dat God vir hom gesê het: "Ek het jou die vader van baie nasies gemaak." Abraham het op God vertrou, en wat God betref, bly hierdie belofte staan, want God kan mense wat dood is, weer lewendig maak, en Hy kan iets maak waar vantevore niks was nie deur net 'n bevel te gee.

18Toe daar vir Abraham menslik gesproke geen moontlikheid meer was om 'n kind te hê nie, het hy tog geglo dat hy 'n groot nageslag van baie nasies sou hê, want dit was presies wat God belowe het. 19Hy het nie opgehou om op God te vertrou nie selfs toe hy byna honderd jaar oud was. Dit het nie vir hom saak gemaak dat hy reeds met een voet in die graf was en dat Sara, sy vrou, nie kinders kon hê nie.


20Abraham het aangehou om op God te vertrou en nie toegelaat dat daar twyfel in sy hart kom oor die belofte van God nie. Sy vertroue op God het al sterker geword omdat Hy aan God die eer gegee het. 21Hy was absoluut oortuig daarvan dat God kon doen wat Hy beloof het.


 

Dit is baie belangrik dat ons die Bybel reg vir mense kwoteer, want ons sê eintlik vir die mense wat God gesê het en as jy vir iemand sê God het so gesê moet jy darem baie seker maak dat jy sê wat God gesê het.

Ek sluit af met iets heeltemal anders.

Die rede hoekom ek so van die Lewende Bybel hou, is die heerlike hedendaagse Afrikaans.

Ek wil jou graag terug verwys na byvoorbeeld een versie in een van die aanhalings uit die Bybel wat ek gekwoteer het

Kyk net gou weer na die volgende vers in die ou vertaling en dan ook in die vertaling van die Lewende Bybel:


 

Romeine 4 vers 19 [1953 vertaling]:

19 En sonder om te verswak in die geloof het hy, al was hy omtrent honderd jaar oud, nie gelet op sy eie liggaam wat alreeds verstorwe was, en op die verstorwe toestand van die moederskoot van Sara nie.


 

Romeine 4 vers 19 [Lewende Bybel]:

19Hy het nie opgehou om op God te vertrou nie selfs toe hy byna honderd jaar oud was. Dit het nie vir hom saak gemaak dat hy reeds met een voet in die graf was en dat Sara, sy vrou, nie kinders kon hê nie.


 

Dit is darem vir my sulke heerlike hedendaagse Afrikaans.

Geniet jou dag en dankie dat ek hierdie gedagtes met jou kon deel.


 

Judas 1:24-25
Aan Hom nou wat magtig is om julle vir struikeling te bewaar en julle sonder gebrek voor sy heerlikheid te stel met gejuig,

25.
aan die alleenwyse God, ons Verlosser, kom toe heerlikheid en majesteit, krag en mag, nou tot in alle ewigheid! Amen.


 

Groete

Sakkie

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.