Iets wat ek gelees het, het my 'n bietjie laat dink.
Ek het al gehoor dat mense sê, dat hulle voel, God is nie meer so lief vir hulle nie. Ek het ook al selfs gehoor dat mense sê, dat God gladnie meer lief vir hulle is nie. Daar is selfs mense wat dink dat God nog nooit vir hulle lief was nie.
Vir sulke mense wil ek die volgende kwoteer Job sê van God:
Job 23:13 Maar Hy bly onveranderlik Een—wie sal Hom dan teëhou? En wat sy siel begeer, dit doen Hy.
Wat was God se groot begeerte na die sondeval van die mens?
Die beste hoe ek dit kan uitdruk is:
'n Als omvattende, onselfsugtige, Goddelike liefdes verhouding met elke mens op die Aarde.
As 'n mens so daaraan dink, kan jy amper nie anders as om in ekstase uit te roep:
"Kyk net wat het God vir my gedoen!"
JHN 3:16 Want so lief het God die wêreld gehad, dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê.
JHN 3:17 Want God het sy Seun in die wêreld gestuur nie om die wêreld te veroordeel nie, maar dat die wêreld deur Hom gered kan word.
Rom 8:31 Wat sal ons dan van hierdie dinge sê? As God vír ons is, wie kan teen ons wees?
Rom 5:8 maar God bewys sy liefde tot ons daarin dat Christus vir ons gesterf het toe ons nog sondaars was.
Rom 8:32 Hy wat selfs sy eie Seun nie gespaar het nie, maar Hom vir ons almal oorgegee het, hoe sal Hy nie saam met Hom ons ook alles genadiglik skenk nie?
Rom 8:33 Wie sal beskuldiging inbring teen die uitverkorenes van God? God is dit wat regverdig maak.
Rom 8:34 Wie is dit wat veroordeel? Christus is dit wat gesterf het, ja, meer nog, wat ook opgewek is, wat ook aan die regterhand van God is, wat ook vir ons intree.
Rom 8:35 Wie sal ons skei van die liefde van Christus verdrukking of benoudheid of vervolging of honger of naaktheid of gevaar of swaard?
God sal nooit Sy rug op jou draai nie en ek wil dit graag so vir jou verduidelik.
Die Son is altyd dieselfde. Hy stuur altyd die selfde lig en hitte na die aarde uit.
Tog is dit nie op die aarde by ons altyd dieselfde nie.
In die dag skyn die Son op ons en dit is warm maar in die nag is dit donker en dan is dit ook gewoonlik koud.
Dit is tog nie die Son se skuld dat dit so is nie. As iemand, of dan nou in die geval iets die skuld daarvoor moet neem, is dit die aarde. Die aarde draai ons weg van die Son af en dan is dit by ons nag.
Jare gelede sit ek en my seun eendag en skaak speel. Op 'n kol in die spel maak hy 'n skuif en sê toe vir my die volgende:
"Nou is dit nag vir pa."
Ek dink dit was die eerste keer wat ek die gesegde gehoor het. Dit is nou een gesegde wat in my kop vas gesteek het en ek het daarna in my bediening so baie met mense gedeel en dan terwyl ek met hulle gedeel het, het dit in my hart opgekom dat in die persoon se lewe is dit op die oomblik nag.
Ek wil jou ook op iets in die verband in God se Woord wys.
JHN 13:26 Jesus antwoord: Dit is die een aan wie Ek die stukkie sal gee as Ek dit ingedoop het. En toe Hy die stukkie ingedoop het, gee Hy dit aan Judas Iskáriot, die seun van Simon.
JHN 13:27 En nadat hy die stukkie geneem het, het die Satan in hom ingevaar. En Jesus sê vir hom: Wat jy doen, doen dit haastig.
JHN 13:28 Maar waarom Hy dit vir hom gesê het, het niemand van die wat aan tafel was, verstaan nie.
JHN 13:29 Want sommige het gedink, terwyl Judas die beurs gehad het, dat Jesus vir hom sê: Koop wat ons nodig het vir die fees; of dat hy iets aan die armes moes gee.
JHN 13:30 Toe hy dan die stukkie geneem het, het hy dadelik uitgegaan. En dit was nag.
JHN 13:31 En toe hy buite was, sê Jesus: Nou is die Seun van die mens verheerlik, en God is in Hom verheerlik.
Toe ek die gedeelte lees 'n ruk nadat dit vir my nag op die skaakbord gewees het, kon ek nie anders, al was dit met 'n bietjie galgehumor, daaraan dink, dat dit nou regtig vir Judas nag was, toe hy sy rug op Jesus gedraai en by daardie deur uit gestap het.
JHN 13:30 Toe hy dan die stukkie geneem het, het hy dadelik uitgegaan. En dit was nag.
So ek wil vir enige persoon wat voel dat God hom of haar nie lief het nie, die
volgende sê.
Die Son, die Lig van die Wêreld, ons Jesus, sal altyd vir jou skyn. Hy sal altyd daar
wees om jou lig en Sy warm liefde te gee.
Moet net nie weg draai van Hom af nie, want glo my.
Dan is jou lewe duister en koud. Dan is dit vir jou nag.
Mag dit vir jou 'n heerlike dag wees.
Judas 1:24-25
Aan Hom nou wat magtig is om julle vir struikeling te bewaar en julle sonder gebrek voor sy heerlikheid te stel met gejuig,
25.
aan die alleenwyse God, ons Verlosser, kom toe heerlikheid en majesteit, krag en mag, nou tot in alle ewigheid! Amen.
No comments:
Post a Comment
Note: Only a member of this blog may post a comment.