Ek het gister iets gelees, wat my gedagtes terug geneem het,na iets wat ek op 'n Bybel kursus geleer het
Ek het al baie verskillende verduidelikings gehoor, as iemand die bestaan van God wil verduidelik en deur die jare het baie van die verduidelikings weer en weer hul verskyning gemaak. Die een egter het ek net eenkeer in my lewe teëgekom en dit het 'n groot indruk op my gemaak en ek wil dit nou met jou deel
Dit word die diaboliese bewys van die bestaan van God genoem en dit gaan so:
Veronderstel ek sou met iemand praat wat nie in die bestaan van God glo nie, dan sal ek die bestaan van God as volg vir hom kan bewys:
Die hele skepping, of as jy dan wil , die hele heelal, bestaan uit teenoorgesteldes. Ek gee graag 'n paar voorbeelde:
Jy kry, lig en donker.
Jy kry, op en af.
Jy kry, soet en bitter.
Jy kry, warm en koud.
Jy kry, hard en sag.
Jy kry, liefde en haat.
Jy kry, hartseer en vrolik.
Jy kry, mooi en lelik.
Jy kry, somer en winter.
'n Mens kan tot vervelens so aangaan.
Nou wil ek 'n vraag vra:
Wat gebeur met 'n man, wat net so normaal soos enige ander man, byvoorbeeld ek is? Wat 'n 6 maande oue baba verkrag. 'n Normale man soos byvoorbeeld ek, kan nie om my lewe te red dink dat 'n mens seksuele bevrediging daaruit kan kry nie. Tog is daar mans wat so iets sal doen.
Wat laat 'n vrou haar pap baba lewendig in 'n put toilet gooi?
Ek het hier net 2 van die menigte afgryslike dade genoem wat ons in die afgelope tyd van gehoor het.
As jy gaan sit en met die mense gesels, lyk hulle normaal, soos ek en jy. Op die oog af sal baie van die mense, so sê hulle vir my, selfs lyk of hul 'n beter tipe is as ek en jy. Tog bewys hul dade dat iets boos van hulle besit geneem het, of as jy dit dan anders wil stel, dat daar iets baie verkeerd in hul denke gestalte gekry het.
Noem dit net wat jy wil, om 'n ou cliché te gebruik, ons is mos 'n demokrasie.
Ek noem dit die werke van satan. Met ander woorde ek sê, dat satan van so iemand se denke besit geneem het en hom of haar dan dryf om te doen wat hulle doen.Vir alles is daar mos 'n teenoorgestelde.
Ons hoor van mense wat hul lewens waag om ander mense se lewens te red.
Ons hoor van mense wat hul self tekort doen om ander te help.
Laat maar net jou gedagtes gaan en jy sal baie gou aan iemand dink wat iets moois, of goeds gedoen het. Dalk was die laaste persoon wat jy van weet wat iets goed vir iemand anders gedoen het nog jyself.
Dit is die teenoorgestelde van die bose wat jou en my en ander mense dryf om goed te doen partykeer selfs ten koste van ons self.
Ek weet daar is mense wat allerhande name vir daardie dryfkrag in jou en my gee.
Ek weet egter verseker dat dit die Heilige Gees van God is.
As mense glo dat boosheid van 'n mens kan besit neem, moet hulle ook glo dat dit wat 'n mens die teenoorgestelde laat doen, iets goeds moet wees.
Ek noem daardie teenoorgestelde van daardie bose, want die hele skepping of dan heelal het 'n teenoorgestelde, en vir my is die teenoorgestelde van die bose God.
Ek het nou vir jou vertel na die beste van my vermoë soos ek dit wat ek omtrent 30 jaar gelede gehoor het. Ek wil nou afsluit met iets wat by my op gekom het terwyl ek hier sit en skryf.
Die een kom in die tuin na die mens en lieg vir hom en die mens luister na hom en al die sonde soos ek en jy dit nou ken kom die wêreld in en die man en sy vrou het gesterf.
Genesis
3
Die slang was die slimste van al die diere wat die Here God gemaak het. Hy kom sê toe vir die vrou: "Dit is mos waar dat God gesê het julle mag glad niks van die vrugte in die tuin eet nie, né?"
2"Nee," antwoord die vrou, "ons mag al die soorte vrugte eet wat in die tuin is. 3Maar wat God wel gesê het, is dat ons die boom wat in die middel van die tuin is se vrugte nie mag eet of daaraan mag raak nie, want as ons dit doen, gaan ons dood."
4"Dis nie waar nie!" sê die slang toe. "Julle sal nie doodgaan nie. 5God het maar net so gesê, want Hy weet julle oë sal oopgaan die oomblik as julle daardie vrugte eet, en dan sal julle volmaakte kennis hê en net soos God wees!" 6Die vrou kyk toe weer na die boom se vrugte en sien hoe pragtig hulle lyk. Hoe lekker sou hulle nie wees om te eet nie! En hoe wonderlik sou dit nie wees om alles te verstaan nie! Sy pluk toe van die vrugte en eet daarvan, en gee ook vir haar man wat by haar was van die vrugte, en hy het ook geëet.
Ek noem daardie leuenaar en bedrieër Satan.
Die ander Een kom na die aarde en kom hang aan 'n kruis en sê:
Johannes 19 :28
28Jesus het geweet dat alles nou afgehandel was. Hy sê toe: "Ek is dors." Dit was ook iets wat in die Skrif geskrywe was wat hier uitgekom het. 29Daar was 'n kruik vol van die soldate se suur wyn. Hulle het toe 'n spons vol van die suur wyn op 'n hisopstokkie gesit en dit teen sy mond gedruk. 30Toe Jesus daarvan gedrink het, sê Hy: "Alles is nou afgehandel." Toe laat Hy sy kop sak en sterf.
Ek noem Hom :
My God en Verlosser.
Hy het my en jou so volmaak verlos, dink net daaraan, ons kan nooit weer doodgaan nie. Dit is onmoontlik. Soos ek al so baie vir so baie mense gesê het. Ons gaan een of ander tyd uit hierdie aardse lewe uittree, net om in 'n baie beter lewe in te tree.
Johannes
3 vanaf vers 16:
16"God het die mense so lief gehad dat Hy sy enigste Seun gestuur het. Iemand wat in Hom glo, sal nie verlore gaan nie maar hy sal die ewige lewe hê. 17God het nie sy Seun na die wêreld toe gestuur om die mense te kom veroordeel nie maar om hulle te kom red.
18"'n Mens wat op Hom vertrou, word nie veroordeel nie, maar 'n mens wat nie hierdie vertroue het nie is reeds veroordeel omdat dit die enigste Seun van God is in wie hy nie wou glo nie. 19Die oordeel kom hierop neer: die Lig het na die wêreld toe gekom, maar die mense het die donker meer liefgehad as die lig, want wat hulle gedoen het, was sleg. 20Almal wat slegte dinge doen, haat die lig en kom nie graag na die lig toe nie sodat die dinge wat hulle gedoen het geheim kan bly. 21Maar 'n mens wat die waarheid doen, kom na die lig toe sodat almal kan sien dat hy doen wat God wil hê."
Let op, weer die teenoorgesteldes:
Lig en donker.
Ek weet 'n mens kan nie met iemand wat nie in God glo nie die Bybel aanhaal nie. Ek het die Bybel gebruik omdat ek met jou praat. Vir iemand wat nie in God glo, met ander woorde ook nie in die Bybel nie, sê ek net:
Jy moet erken 'n mens doen nie van nature die verskriklike dinge wat mense partykeer aan mekaar doen nie, Dit is iets boos wat van so mens besit neem. Ek het 'n naam vir daardie iets boos, ek noem hom satan.
Alles het 'n teenoorgesteld, ook die bose. Ek ken die teenoorgestelde van die bose en as hy my kans gee sal ek hom ook voorstel aan die teenoorgestelde van die bose, naamlik God.
Geniet hierdie heerlike dag wat ons Here ons gegee het en soos daardie baie ou koortjie sê:
Wandel in die lig, die Heerlike lig van God.
Jesus is die Lig, die heerlike Lig van God.
Judas 1:24-25
Aan Hom nou wat magtig is om julle vir struikeling te bewaar en julle sonder gebrek voor sy heerlikheid te stel met gejuig,
25.
aan die alleenwyse God, ons Verlosser, kom toe heerlikheid en majesteit, krag en mag, nou tot in alle ewigheid! Amen.
Groete
Sakkie
No comments:
Post a Comment
Note: Only a member of this blog may post a comment.