GAAN DAN

Matteus 28:16-20)


 

Gaan dan!


 

Matteus se beskrywing van Jesus se afskeid aan sy dissipels is aangrypend. Saam met sy vriende het Jesus die berg bestyg. Toe hulle moes agterbly is Hy alleen verder, die hemeltrappe op, om die troon van sy Vader te bestyg. Sy troonsbestygingslied as Heerser oor alles en almal, het Hy self gesing: "Aan My is alle mag gegee in die hemel en op die aarde". Dit was duidelik: Hy was die Oorwinnaar! Die hede, die verlede en die toekoms is alles in sy hande geplaas.

En toe kom die verrassing. Die Koning nooi sy volgelinge om sy verteenwoordigers, sy medewerkers, op aarde te wees. Hy sou sy evangelie oor ses kontinente laat klink. Hy sou sy kerk deur die eeue bou. Maar nie sonder sy dissipels nie. Ook nie sonder ons, sy 21ste eeuse volgelinge, nie: "Gaan dan na al die nasies toe en maak die mense my dissipels!"

Dit bly 'n wonder dat God nie engele gebruik om sy werk op aarde te doen nie, maar dat Hy ons, sondige swak mense, as sy gevolmagtigde verteenwoordigers aanstel. Dit is wat sin aan ons lewens gee: dat God ons gebruik as sy oë en ore, sy stem, sy arms, hande en sy voete. Dit word dikwels gesê, maar dis wáár: die sin van ons lewens op aarde is om deur God gebruik te word. As jy nie as medewerker - as getuie - optree nie, mis jy jou doel in die lewe. Die wiskunde van die Here is eenvoudig én baie ernstig: Christen-wees = getuie-wees.


 

Gebed: Ek voel skaam en skuldig Here, omdat ek U dikwels in die steek laat. Dat ek na binne-gekeer lewe in plaas van om die liefde wat ek so kwistig van U ontvang, na ander uit te straal. Vergewe my …en gebruik my.


 

Kopiereg 2004 Radiokansel.


 

Besoek ons webblad by www.radiokansel.co.za


 

Ek sê altyd vir die mense, dat ek vir twee hoofredes op die aarde is:

Om God te verheerlik en om siele vir Sy koninkryk te wen. Alle ander dinge is ondergeskik hieraan.

Wat my elke keer as ek daaraan dink aangryp, is dit:

Dat die Here, die God van die heelal, Sy weg oop gesien het om ook vir my te gebruik, sal altyd vir my iets ongelooflik wonderlik bly en ek sal nooit kan ophou om dankbaar vir die genade wat ek ontvang het te wees nie.


 

Judas 1:24-25
Aan Hom nou wat magtig is om julle vir struikeling te

bewaar en julle sonder gebrek voor sy heerlikheid te stel met gejuig,

25.
aan die alleenwyse God, ons Verlosser, kom toe heerlikheid en

majesteit, krag en mag, nou tot in alle ewigheid! Amen.


 


Groete

Sakkie

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.