KAN EK MY MEDEMENS NET SO LIEF Hê SOOS MYSELF

Ek wil graag met jou deel, hoe God hierdie besondere probleem wat ek ook gehad het, vir my opgelos het.

Lukas
10 vanaf vers 25:

Die Samaritaan wat sy medemens liefgehad het


25Iemand wat 'n deskundige oor die wet was, staan toe op om Hom met 'n vraag vas te trek. "Meneer" , het hy gevra, "wat moet ek doen om die ewige lewe te kry?"


26"Wat lees jy in die wet?" vra Jesus. "Wat sê die wet hieroor?"


27Die man antwoord: "Daar staan geskryf: 'Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en siel en met al die krag wat jy het. Jy moet Hom liefhê met jou hele verstand. Jy moet ook jou medemens net so liefhê as wat jy jouself liefhet.' "


28"Dit is heeltemal reg," sê Jesus. "As jy dit doen, sal jy die ewige lewe hê."


29Maar die man wou nog sy eie opinie verdedig en vra toe: "En wie is my medemens?"


30Jesus verduidelik toe met 'n gelykenis: "Daar was eendag 'n Joodse man wat op pad was van Jerusalem af na Jerigo toe. Langs die pad het rowers hom aangeval en sy klere afgevat. Hulle het hom so geslaan dat hy half dood bly lê het toe hulle daar weg is.


31"Dit gebeur toe so dat 'n Joodse priester met daardie pad verbykom. Maar toe hy die man daar sien lê, het hy 'n wye draai om hom geloop en aangegaan. 32Daar het ook 'n Leviet verbygekom, maar toe hy die man daar sien lê, het hy ook 'n wye draai om hom geloop en aangegaan. 33'n Samaritaan wat op reis was, kom toe daar aan. Toe hy die man sien, het hy hom in sy hart jammer gekry. 34Hy het na die man toe gegaan en sy wonde verbind nadat hy olie en wyn daaraan gesmeer het. Toe help hy die man om op sy donkie te klim en vat hom na 'n herberg toe waar hy hom versorg het. 35Die volgende oggend het die Samaritaan twee silwergeldstukke vir die eienaar van die herberg gegee en gesê: 'Versorg hom asseblief goed. As jou onkoste meer is as hierdie geld, sal ek dit self aan jou terugbetaal as ek weer hier langs terugkom.' "


36Jesus vra toe: "Nou hoe dink jy? Watter een van die drie was die medemens van die man wat deur die rowers aangerand is?"


37Die deskundige oor die wet se antwoord was: "Dit is die een wat hom met meegevoel behandel het."

Toe sê Jesus: "Nou gaan en maak jy ook so!"


 

Hoe kan ek my medemens regtig net so lief hê soos myself?

Ek het baie daaroor gedink.

Hoe kan ek vir die vrou wat vir ons tee by die werk bring en die manne wat die blomme voor die kantoor snoei en die man of die vrou wat in die kantoor langs my werk, wat ek net so nou en dan sien, net so lief wees as vir myself.

God sê dat ons, ons medemens moet lief hê. Dit is 'n bevel. Met ander woorde ek as God se kind word nie 'n keuse gegee nie.


 

Lukas 10 vers 27:

27Die man antwoord: "Daar staan geskryf: 'Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en siel en met al die krag wat jy het. Jy moet Hom liefhê met jou hele verstand. Jy moet ook jou medemens net so liefhê as wat jy jouself liefhet.' "


 

Dit was iets wat ek nie mooi kon verstaan nie en God wat my probleem gesien het

het my toe terwyl ek met die probleem geworstel het na die gedeelte in die Bybel geneem en toe ek mooi daarna kyk was dit vir my baie mooi duidelik en ek hoop dat as jy of iemand wat jy van weet wat met die probleem sit, die e-mail gelees het, dan ook soos ek, sal insien dat dit tog moontlik is om my medemens net so lief te hê soos myself.

Iets wat ek sommer gou na my bekering agter gekom het, is dat Jesus nie met woorde mors nie.

As Jesus iets op 'n sekere manier sê, is daar 'n baie goeie rede hoekom Hy dit so sê en as Hy 'n sekere woord gebruik is daar 'n baie goeie rede hoekom Hy daardie besondere woord gebruik.

Hoekom het Jesus 'n Samaritaan die hoofrol in die verhaal laat speel?

Want die Samaritane was verskriklik deur die Jode gehaat. Soveel so, dat 'n respektabele Jood nie eens die vir hom, vieslike woord Samaritaan sou gebruik nie.

Daarom dan ook, selfs nadat Jesus die man oortuig het van wie die rowers se slagoffer se medemens was, hy nog nie homself sover kon kry om die woord Samaritaan te sê nie.


 

Lukas 10 vanaf vers 36:

36Jesus vra toe: "Nou hoe dink jy? Watter een van die drie was die medemens van die man wat deur die rowers aangerand is?"


37Die deskundige oor die wet se antwoord was: "Dit is die een wat hom met meegevoel behandel het."

Iets anders wat ons Vader by my tuis gebring het is dit:

Al die tyd wat die Samaritaan die Jood verpleeg het terwyl hy daar op die grond gelê het, moes daardie Jood opkyk na die man, na wie hy normaalweg nie eens sou afkyk nie. Nee hy sou normaalweg eenvoudig net anderpad gekyk het.

Toe ek die gedeelte so sit en bepeins, toe kom die volgende drie woorde in my gedagte op:

Bedagsaamheid, meegevoel en konsiderasie.

Ek glo as ons die drie begrippe in ons lewe teenoor ons medemens toepas en ons so aan onsself werk dat ons dit graag wil doen. Ons, ons Vader se hart baie bly sal maak.

Terloops, my vrou sê dat daar nou nie juis 'n verskil is, tussen bedagsaamheid en konsiderasie nie.

Alhoewel ek tog dink daar is 'n fyn verskil, redeneer ek so:

Dit is die drie begrippe wat ons Vader op my hart gelê het en as daar dan nie 'n verskil regtig is tussen die twee begrippe nie, dan meen dit maar net ons Vader wil hê ek moet meegevoel en dubbel konsiderasie of bedagsaamheid teenoor my medemens hê, of hoe?


 

Romeine 13 vanaf vers 9:

9Die wet sê: "Jy mag die huwelik nie verbreek nie, jy mag nie moord pleeg nie, jy mag nie steel nie, jy mag nie lieg nie, jy mag nie iets van iemand anders begeer nie." Daar mag nog baie ander wette ook wees, maar hulle almal saam word uitgedruk in een wet wat sê: "Jy moet ander mense net so liefhê as vir jouself." 10Iemand wat sy medemens liefhet, sal hom nie iets verkeerds aandoen nie. As 'n mens dan ander mense liefhet, doen jy wat die wet wil hê.

Geniet hierdie heerlike dag.


 

Judas 1:24-25
Aan Hom nou wat magtig is om julle vir struikeling te bewaar en julle sonder gebrek voor sy heerlikheid te stel met gejuig,

25.
aan die alleenwyse God, ons Verlosser, kom toe heerlikheid en majesteit, krag en mag, nou tot in alle ewigheid! Amen.


 

Groete

Sakkie

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.