Iemand het my 'n tyd gelede gevra of diere kan Hemel toe gaan.
Ek het toe my sienswyse vir die mense op my lys gestuur en toe het iemand anders my kwalik geneem oor dit wat ek geskryf het en 'n paar verse kwoteer om my in geen onsekere taal te wys dat ek op 'n dwaalweg is.
Ek kon nie anders nie, ek moes soms terwyl my rekenaar die persoon se skrywe aan my lees breed glimlag en in my antwoord, as ek nou weer lees wat ek geskryf het, was ek skynbaar aan die begin van my antwoord nog in daardie humoristiese gemoedstemming.
Party mense lees die Woord te letterlik en party mense vergeestelik weer die Woord teveel
Hoe weet ek wanneer is dit sus en wanneer is dit so.
Vir my is dit eintlik baie eenvoudig.
Hoe intiemer jou liefdesverhouding met ons Here is, hoe duideliker sal jy verstaan wat jy hoe moet lees.
Die persoon het na my mening die Woord darem plek-plek net te letterlik gelees.
Hier is dan my skrywe aan die persoon.
Ek gaan begin om in my antwoord aan jou vir 'n oomblik te probeer om die Bybel wat die diere aanbetref te lees soos wat jy dit skynbaar doen.
Dit lyk dan vir my of die arme slang die een is wat nie 'n kat se kans het om in die Hemel te kom nie.
Oeps!
Eintlik moes ek seker nie gesê het:
"'n Kat se kans nie, want so lyk dit vir my, jy dink hulle sal in die Hemel wees, al vang hulle en vermoor hulle al die ou muisies en voëltjies, wat as ek jou reg verstaan ook in die Hemel sal wees.
Soos ek gesê het ek moet seker nie praat van:
"'n Kat se kans nie."
Ek moes seker iets gesê het, soos:
"Die arme slang het nie 'n hond se kans nie, want daar staan dit duidelik geskryf.
OPG 22:15 Maar buite is die honde en die towenaars en die hoereerders en die moordenaars en die afgodedienaars en elkeen wat leuens liefhet en doen.
Gelukkig kyk ek op 'n ander manier na die Woord, anders sou hierdie gedeelte wat jy nou net gelees het, vir my maar 'n bitter pil gewees het om te sluk. Want, ek het die wonderlikste gidshond.
Vir 7 jaar kyk hy al elke dag agter my dat ek nie in 'n ongeluk beland as ek werk toe en huis toe stap nie.
"Come to think about it."
Soos my vrou sou gesê het.
Sy is eintlik Engels, oorspronklik van Zimbabwe af.
In elk geval:
"Come to think about it."
Miskien moes ek eintlik gesê het:
"Die slang het nie 'n wurm se kans nie."
Want as ek op hierdie onkundige manier na die Woord kyk, het hulle nou werklik 'n "raw deal" ontvang.
Hulle beland in die hel en nee ek weet ook nie wat hulle verkeerd gedoen het nie maar daar beland die arme wurm in die hel. Dit lyk darem gelukkig of dit nie alle spesies van die wurm is wat daar beland nie. Soos ek gesê het, daar beland hulle in die hel
en die leeu byvoorbeeld wat mens en dier vermoor het loop vry in die Hemel rond.
Ek kan nou verstaan as byvoorbeeld die leeus in die hel beland. Wel tenminste daardie spul wat die Christen martelare wat vanweë hul geloof in die arenas gegooi en verskeur is maar die arme wurms!? Tog daar staan dit duidelik geskryf.
Mrk 9:43 ... en in die hel te gaan in die onuitbluslike vuur
Mrk 9:44 waar hulle wurm nie sterf en die vuur nie uitgeblus word nie.
Daar is 'n gesegde wat sê:
"What is good for the goose, is good for the gander," maar ek hoop regtig daar word 'n uitsondering met muskiete en vlieë gemaak.
Ek weet dit sal effens onregverdig wees maar dit is nou twee wesentjies wat ek nie kan verdra nie maar as ek die Bybel lees, soos jy oënskynlik die Bybel lees, gaan ek nie 'n keuse hê nie. Ek sal hulle maar moet verdra, want daar sal mos ook nie onregverdig opgetree word nie.
So, wat goed is vir die een is dan ook goed vir die ander.
Of dan:
Wat goed is vir die leeu en die skaap, is dan ook goed vir die muskiet en die vlieg.
Sjoe!
So met die tong in die kies, ek sidder as ek dink dat al daardie vlieë en muskiete wat oor die eeue gelewe het nou daar bo in die Hemel vir my wag.
As my vrou dit gelees het wat ek tot nou toe aan jou geskryf het, sou sy een teen tien iets soos die volgende gesê het.
"Come on! Bring back some sanity in your writing!"
Nou doen ek dit maar terwyl ek in dankbaarheid onthou dat gelukkig onder andere muskiete en vlieë nie kan doen wat ek nou gaan noem wat almal wat in die Hemel by ons Here wil wees sal moet doen nie.
Ek lees maar liewer die Bybel, soos ek dit nog van my bekering af lees en dan glo ek alles wat die Leeu uit die stam van Juda my leer aangaande wie in die Hemel sal wees en wie nie.
Wie is die Leeu uit die stam van Juda?
OPG 5:5 Toe sê een van die ouderlinge vir my: Moenie ween nie; kyk, die Leeu wat uit die stam van Juda is, die wortel van Dawid, het oorwin om die boek oop te maak en sy sewe seëls te breek.
Hy leer my.
Mat 7:13 Gaan in deur die nou poort, want breed is die poort en wyd is die pad wat na die verderf lei, en daar is baie wat daardeur ingaan.
Mat 7:14 Want die poort is nou en die pad is smal wat na die lewe lei, en daar is min wat dit vind.
Mat 7:15 Maar pas op vir die valse profete wat in skaapsklere na julle kom en van binne roofsugtige wolwe is.
Wat is die Naam van hierdie Pad en waar kry ek hierdie Pad met die nou poort.
JHN 14:5 Thomas sê vir Hom: Here, ons weet nie waar U gaan nie, en hoe kan ons die weg ken?
JHN 14:6
Jesus antwoord hom: Ek is die weg en die waarheid en die lewe; niemand kom na die Vader behalwe deur My nie.
Hoe gaan ek te werk om op hierdie Pad te kom?
Jhn 1 12 Maar almal wat Hom aangeneem het aan hulle het Hy mag gegee om kinders van God te word aan hulle wat in sy Naam glo
Jhn 1 13 wat nie uit die bloed of uit die wil van die vlees of uit die wil van 'n man nie maar uit God gebore is
Hoe gaan ek van my kant af te werk om hierdie wonderlike wedergeboorte deelagtig te word.
Ek bekeer my, met ander woorde, ek draai om, of terug na God toe en ek neem Jesus aan as my verlosser en Saligmaker.
HAN 2:37 Toe hulle dit hoor, is hulle diep in die hart getref en het vir Petrus en die ander apostels gesê: Wat moet ons doen, broeders?
HAN 2:38 En Petrus sê vir hulle: Bekeer julle, en laat elkeen van julle gedoop word in die Naam van Jesus Christus tot vergewing van sondes, en julle sal die gawe van die Heilige Gees ontvang.
HAN 2:39 Want die belofte kom julle toe en julle kinders en almal wat daar ver is, die wat die Here onse God na Hom sal roep.
HAN 3:19
Kom dan tot inkeer en bekeer julle, sodat julle sondes uitgewis kan word en tye van verkwikking van die aangesig van die Here mag kom,
Judas 1:24-25
Aan Hom nou wat magtig is om julle vir struikeling te bewaar en julle sonder gebrek voor sy heerlikheid te stel met gejuig,
25.
aan die alleenwyse God, ons Verlosser, kom toe heerlikheid en majesteit, krag en mag, nou tot in alle ewigheid! Amen.
No comments:
Post a Comment
Note: Only a member of this blog may post a comment.