Na aanleiding van 'n e-mail wat ek gelees het wil ek graag die volgende gedagte wat by my opgekom het met jou deel.
'n Mens kan die vraag wat ek nou gaan vra seker ook op die wêreld van toepassing maak maar ek het nie die statistieke van die wêreld nie. Ek het nou weer egter die statistieke van Suid-Afrika gehoor en vra die vraag dus net oor Suid-Afrika.
Waarom is Suid-Afrika in die gemors wat hy is, as 70% van Suid-Afrika se mense bely dat hulle Christene is?
Die verskriklike antwoord wat in my hart opkom is die volgende maar voordat ek vir jou sê wat in my hart opgekom het wil ek jou vra.
As jy nou klaar alles gelees het wat ek geskryf het, sit dan net 'n oomblik stil en dink dan oor wat ek vir jou geskryf het.
As jy nie met my verskil nie, vra jou dan die vraag af:
Hoe vertoon my geloof in God, teenoor die duiwel se geloof in God?
Is Suid-Afrika nie dalk in die gemors waarin hy is nie, omdat ons, of dan die meeste van ons Christene, minder geloof in Jesus het as die duiwel nie.
Jakobus
2 vanaf vers 14:
14Broers, wat sou dit help as 'n mens sê hy is 'n gelowige maar hy leef soos iemand wat nie in God glo nie? Kan so 'n geloof hom miskien red? Nee, dit kan nie. 15Veronderstel nou daar is by julle 'n Christen man of -vrou wat nie genoeg kos het om te eet of genoeg klere om aan te trek nie. 16As een van julle dan vir hulle sou sê: "Alles van die beste! Ek hoop julle sal warm kan aantrek en lekker eet," maar julle gee hulle nie wat hulle nodig het nie, wat sou dit help? 17Dit help niks nie, en dit is presies soos die geloof is as dit nie uitgeleef word nie. As dit net by die geloof bly en op niks uitloop nie, is dit morsdood.
18Nou kan iemand redeneer en sê: "'n Mens se geloof en jou lewe hoef nie met mekaar iets te doen te hê nie. Een mens konsentreer op wat hy glo en 'n ander konsentreer weer op hoe hy lewe." Vir so iemand antwoord ek: wys my hoe iemand kan glo sonder dat dit op sy lewe 'n invloed uitoefen, dan sal ek vir jou wys dat ek nie alleen glo nie maar dit ook uitlewe. 19As jy sê jy glo dat daar net een God is, is dit baie goed. Maar onthou, die duiwelse geeste glo dit ook en dit laat hulle bewe van angs.
20Maar hierdie soort geloof wat geen invloed het op wat 'n mens doen of hoe jy lewe nie, beteken niks. Waar is jou verstand dat jy dit nie kan insien nie? 21Neem byvoorbeeld ons vader Abraham se geval. Was dit nie op grond van wat hy gedoen het dat God gesê het Abraham is 'n regverdige mens nie? Want hy was gewillig om sy seun Isak in gehoorsaamheid aan God op die altaar te offer. 22Kan jy sien dat wat hy geglo het en wat hy gedoen het, ooreengestem het? Wat hy gedoen het, het bewys dat hy werklik op God vertrou. 23Dit het gebeur presies soos daar in die woord van God staan: "Abraham het op God vertrou, en daarom het God hom aangeneem." Dit is ook daarom dat Abraham God se vriend genoem is. 24Dit is dan nou vir julle 'n bewys dat God 'n mens aanneem oor wat hy doen en nie net oor wat hy glo nie.
Lees net gou weer vers 19.
Jakobus
2 vers 19:
19As jy sê jy glo dat daar net een God is, is dit baie goed. Maar onthou, die duiwelse geeste glo dit ook en dit laat hulle bewe van angs.
Ek wil nou graag vir jou een voorbeeld uit God se woord gee, om die duiwel se geloof in Jesus te demonstreer:
Matteus
8 vanaf vers 28:
Jesus dryf duiwelse geeste uit twee manne uit
28So het Jesus by die oorkant aangekom, die land van die mense van Gadara. Daar kom toe twee manne van die grafte se kant af na Hom toe. In albei van hulle was daar duiwelse geeste. Hulle was so gevaarlik dat niemand kans gesien het om met die pad daar langs verby te gaan nie. 29Hulle skreeu toe vir Jesus: "Wat kom pla jy ons, Seun van God? Het jy ons voor die tyd kom pynig?"
30'n Ent daarvandaan het daar 'n groot trop varke gewei. 31Die duiwelse geeste smeek Jesus toe: "As jy ons uit hierdie manne uitjaag, stuur ons asseblief in die trop varke in."
32"Gaan!" het Jesus gesê. Die duiwelse geeste is toe uit die manne uit en het in die varke ingegaan. Die hele trop storm toe teen die steilte af, die meer in, en hulle het almal in die water versuip.
Eerstens, hulle het Jesus goed geken. So goed dat hulle geweet het dat Hy die Seun van God is.
Vers 29:
29Hulle skreeu toe vir Jesus: "Wat kom pla jy ons, Seun van God? Het jy ons voor die tyd kom pynig?"
Tweedens, hulle het soveel geloof in Hom gehad dat hulle geweet het dit wat ons Hom vra, hoe onmoontlik ook al, kan Hy vir ons doen.
31Die duiwelse geeste smeek Jesus toe: "As jy ons uit hierdie manne uitjaag, stuur ons asseblief in die trop varke in."
Omdat hulle geglo het en natuurlike het Jesus ook geweet dat hulle glo, beantwoord Hy hulle smeking:
Vers 32:
32"Gaan!" het Jesus gesê. Die duiwelse geeste is toe uit die manne uit en het in die varke ingegaan. Die hele trop storm toe teen die steilte af, die meer in, en hulle het almal in die water versuip.
Hulle het gehoor wat Jesus sê en Hom op Sy woord geneem.
Ek wil 'n stelling maak en dit is:
As 70% van Suid-Afrika se bevolking, die 70% wat bely dat hulle Christene is, dit wat ons in God se woord lees, regtig aanneem, met ander woorde God op Sy woord neem, maak God deur ons, Suid-Afrika 'n paradys.
Die meeste van ons Christene, so lyk dit vir my, het minder geloof in God as die duiwel.
Een ding, soos Trompie sou gesê het, is so waar soos wors:
As my geloof net lippetaal is, is my geloof dood, morsdood.
Jakobus
2 vers 17:
17Dit help niks nie, en dit is presies soos die geloof is as dit nie uitgeleef word nie. As dit net by die geloof bly en op niks uitloop nie, is dit morsdood.
Gelukkig altyd as ek dink aan die amperse hopelose toestand om my. Dan onthou ek Dat die Here op die troon is en die een wat op die troon is, is ook die een wat in beheer is.
Geniet hierdie heerlike dag in Suid-Afrika.
Judas 1:24-25
Aan Hom nou wat magtig is om julle vir struikeling te bewaar en julle sonder gebrek voor sy heerlikheid te stel met gejuig,
25.
aan die alleenwyse God, ons Verlosser, kom toe heerlikheid en majesteit, krag en mag, nou tot in alle ewigheid! Amen.
No comments:
Post a Comment
Note: Only a member of this blog may post a comment.