As iemand van julle wysheid kortkom

Iemand skryf en vra my die volgende:

"Is dit moord om lewens onderhoudende masjiene af te sit?"

Ek deel graag met jou hoe ek hierdie situasie in my eie lewe sou hanteer.

Vir baie mense is hierdie moderne tegnologie 'n groot probleem.

Om mee te begin, kan ek nie aan 'n gedeelte in die Woord dink, wat vir ons klinkklare uitsluitsel oor hierdie saak gee nie maar ek glo,dat ons as kinders van ons Here, met die leiding van Sy Heilige Gees en die kennis van wat ons uit Sy Woord kry, tog 'n antwoord op hierdie vraag kan gee.

Ons Here het ons as ouers daar gestel om ons kinders as babas en later as kleinkinders te help om die lewe reg te begin.

Toe kom daar 'n tyd dat hulle meer gespesialiseerde onderrig nodig gehad het en ons het hulle skool toe gestuur, want ons het geweet, ons Here het die onderwysers daargestel om my kinders met daardie soort opvoeding te help.

Nog later het baie van ons, ons kinders na 'n kollege, universiteit ens gestuur,waar daar dosente, professors ens gewees het , om hulle nog verder te help, want ons het geweet, dat ons kon hulle nie met daardie soort studies help nie maar ons Here het deur die dosente en professors vir ons voorsiening gemaak.

So weet ons, dat soos ons Here onderwysers, dosente, professors ens daar vir ons kinders en vir ons gestel het, het Hy ook vir ons Pastore, dominees ens daar gestel om ons in ons geestelike lewe te help.

Net so geld dieselfde natuurlik ook vir ons Dokters.

As 'n onderwyser dosent vir my sê my kind het 'n probleem en dit is wat ons moet doen, luister ek, bid daaroor en laat ons Here my lei.

As ek 'n geestelike probleem het, gaan ek na my pastoor/dominee en ek luister, bid daaroor en laat ons Here my lei.

Dieselfde geld ook vir my dokter. Ek luister na sy diagnose en advies, bid daaroor en laat ons Here my lei.

Toe my dokter in 1997 vir my sê, dat ek melanoom kanker het en ons dadelik met die behandeling moet begin, want as hulle dit nie kan keer nie, het ek drie tot ses maande om te lewe, het ek dadelik ingestem. Ek het nie nog getop oor hoe sleg ek gaan voel ens. nie.

Net so glo ek kan ons met groot vrede in ons hart optree, as die dokter na ons kom en sê, dat ons geliefde breindood is en dat dit die beste sal wees om die krag af te skakel.

As jy egter twyfel, kry dan 'n tweede opinie en as die antwoord nog dieselfde is, sou ek met groot vrede in my hart die krag laat afskakel. Want so glo ek, dan is my geliefde al lank reeds by haar/sy eindbestemming en laat ek maar net toe dat die leë tentwoning nou maar afgebreek word.


 

2KOR 5:1 Want ons weet dat as ons aardse tentwoning afgebreek word, ons 'n gebou het van God, 'n huis nie met hande gemaak nie, ewig, in die hemele.


 

So, op jou vraag

"Is dit moord om lewens onderhoudende masjiene af te sit?"

Baie beslis glo ek nie dat dit moord is As jy op die advies van jou dokter, wat ons Here daar gestel het om jou te help, toestemming gee, dat die krag afgeskakel mag word nie.

Ten slotte nog net dit.

Jy en ek, ons Here se kinders, het hierdie heerlike versekering van Hom.

As ons in opregte geloof bid oor 'n saak, net soos ek ook gebid het, dat ek die antwoord op hierdie vraag sal kan gee, sal Hy ons die wysheid gee wat ons nodig het, om te sê en te doen, wat gesê en gedoen moet word, as daar iets gesê of gedoen moet word.


 

JAK 1:5 En as iemand van julle wysheid kortkom, laat hom dit van God bid, wat aan almal eenvoudig gee sonder om te verwyt, en dit sal aan hom gegee word.


 

Judas 1:24-25
Aan Hom nou wat magtig is om julle vir struikeling te bewaar en julle sonder gebrek voor sy heerlikheid te stel met gejuig,

25.
aan die alleenwyse God, ons Verlosser, kom toe heerlikheid en majesteit, krag en mag, nou tot in alle ewigheid! Amen.


 

Groete

Sakkie

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.