Toe ek besig was om stiltetyd te hou en die volgende gedeelte uit Markus gelees het, het my
gedagtes so deur die Bybel gedwaal en ek wil graag met jou deel wat ons Here my pad langs
gestuur het.
Eintlik sou die verhaal in Lukas beter gewees het om te lees maar dit wat in my hart gestalte
gekry het, het gebeur toe ek Markus gelees het. So ek kwoteer Markus.
Mrk 5:1
En hulle het aan die oorkant van die see gekom in die land van die Gadaréners.
Mrk 5:2
En toe Hy uit die skuit gaan, kom daar dadelik uit die grafte Hom tegemoet 'n man met 'n onreine gees,
Mrk 5:3
wat sy verblyf in die grafte gehad het. En niemand kon selfs met kettings hom bind nie;
Mrk 5:4
want hy was dikwels met voetboeie en kettings gebind, en die kettings is deur hom uitmekaar geruk en die voetboeie stukkend gebreek; en niemand was in staat om hom te tem nie.
Mrk 5:5
En altyd, nag en dag, het hy aangehou om te skreeu op die berge en in die grafte en homself met klippe stukkend te slaan.
Mrk 5:6
En toe hy Jesus van ver af sien, hardloop hy en val voor Hom neer
Mrk 5:7
en skreeu met 'n groot stem en sê: Wat het ek met U te doen, Jesus, Seun van die allerhoogste God? Ek besweer U by God om my nie te pynig nie.
Mrk 5:8
Want Hy het vir hom gesê: Onreine gees, gaan uit die man uit!
Mrk 5:9
En Hy vra hom: Wat is jou naam? En hy antwoord en sê: Legio is my naam, want ons is baie.
Mrk 5:10
Toe smeek hy Hom dringend om hulle nie uit die land weg te stuur nie.
Mrk 5:11
En dáár teen die berge het 'n groot trop varke gewei,
Mrk 5:12
en al die duiwels het Hom gesmeek en gesê: Stuur ons in die varke, sodat ons in hulle kan vaar.
Mrk 5:13
En Jesus het hulle dit dadelik toegelaat; en die onreine geeste het uitgegaan en in die varke gevaar, en die trop—daar was omtrent twee duisend—het van die krans af in die see gestorm en in die see verdrink.
Mrk 5:14
En die wagters van die varke het gevlug en dit in die stad en in die buitewyke vertel; en hulle het uitgekom om te sien wat daar gebeur het.
Mrk 5:15
Toe kom hulle by Jesus en sien die besetene sit, gekleed en by sy verstand—die een wat die legioen gehad het. En hulle was bevrees.
Mrk 5:16
Die wat dit gesien het, vertel toe aan hulle hoe dit met die besetene gegaan het, en ook van die varke.
Mrk 5:17
En hulle het Hom begin smeek om weg te gaan uit hulle gebied.
Mrk 5:18 En toe Hy in die skuit klim, het die man wat van die duiwels besete gewees het, Hom gesmeek om by Hom te kan bly.
Mrk 5:19
Maar Jesus het hom dit nie toegelaat nie, maar vir hom gesê: Gaan na jou huis na jou mense toe, en vertel hulle watter groot dinge die Here aan jou gedoen het, en dat Hy jou barmhartig was.
Mrk 5:20
En hy het weggegaan en in Dekápolis begin verkondig watter groot dinge
Jesus aan hom gedoen het, en almal was verwonderd.
Die eerste ding wat my hierdie keer getref het toe ek die gedeelte gelees het, is dat Jesus niks sê of doen, toe hulle Hom smeek om uit hulle gebied weg te gaan nie.
Mrk 5:17
En hulle het Hom begin smeek om weg te gaan uit hulle gebied.
Mrk 5:18
En toe Hy in die skuit klim, het die man wat van die duiwels besete gewees het, Hom gesmeek om by Hom te kan bly.
Hier het ons nou 'n klassieke geval van:
"Stank vir dank."
Hy kom los 'n groot bose probleem vir hulle op en hulle vra Hom, om asseblief tog Sy ry te kry en Jesus die "Gentleman," vaar nie teen hulle uit nie. Nee, Hy respekteer hulle wense en dit wat hulle wil en Hy klim in die skuit.
Jy sien dit is vir my presies ons Here se geaardheid. Hy is 'n "Gentleman."
Hy wil so graag hê dat alle mense moet Hemel toe gaan, dat Hy aan 'n kruis gaan hang het om dit vir ons moontlik te maak maar Hy gaan niemand dwing om Hom aan te neem as Verlosser en Saligmaker nie.
As hulle vir Hom sê om te gee pad, wel dan sal Hy gee pad maar omdat Hy 'n "Gentleman" is en weet dat hulle nou in hul onkunde verskriklik droogmaak, gaan Hy hulle nie sommer so vir satan los nie.
Kyk net wat gebeur nou.
Mrk 5:18
En toe Hy in die skuit klim, het die man wat van die duiwels besete gewees het, Hom gesmeek om by Hom te kan bly.
Mrk 5:19
Maar Jesus het hom dit nie toegelaat nie, maar vir hom gesê: Gaan na jou huis na jou mense toe, en vertel hulle watter groot dinge die Here aan jou gedoen het, en dat Hy jou barmhartig was.
Jesus los die mense nie vir die satan nie. Hy los die mees bekwame man, die man wat die beste toegerus is om hulle die pad terug na Jesus, met ander woorde die pad na die ewige lewe te wys.
Kyk gou na hierdie man se kwalifikasie.
Lukas stel dit so:
Luk 8:35
Daarop het hulle uitgegaan om te sien wat gebeur het; en hulle het by Jesus gekom en die man gevind uit wie die duiwels uitgevaar het, terwyl hy aan die voete van Jesus sit, gekleed en by sy verstand…
Ek sê altyd, dat as jy eers werklik eenkeer by die voete van Jesus gewees het, jy nooit weer die selfde kan
wees as daar voor nie.
Jesus stuur toe hierdie man terug na sy mense, omdat hulle hom geken het, om deur sy lewe en getuienis
die evangelie van wie Jesus is, te gaan verkondig.
Mrk 5:18
En toe Hy in die skuit klim, het die man wat van die duiwels besete gewees het, Hom gesmeek om by Hom te kan bly.
Mrk 5:19
Maar Jesus het hom dit nie toegelaat nie, maar vir hom gesê: Gaan na jou huis na jou mense toe, en vertel hulle watter groot dinge die Here aan jou gedoen het, en dat Hy jou barmhartig was.
Toe, 'n tyd na hierdie gebeurtenis doen Jesus dit weer en weer volgens my mening soos die grootste "Gentleman" van alle tye.
Hulle spyker die Seun van God kaal aan 'n kruis vas en Hy vervloek hulle nie. Ook vernietig Hy hulle nie.
Nee, Hy kyk so, oor die menigte wat Hom spot en eintlik tussen die grafte van hulle haat en woede eintlik hulle self geestelik stukkend slaan en hy sê:
Luk 23:34
En Jesus sê: Vader, vergeef hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie.
Toe 'n ruk later toe Hy al die bose magte van die heelal oor win het en dit moontlik gemaak het dat ek en jy nie meer nakend in ons sonde hoef voort te ploeter tussen die grafte van ons sondige begeertes nie.
Het Hy oor die menigtes van die eeue gekyk en ook vir jou en vir my gesien en gesê:
JHN 19:30
En toe Jesus die asyn geneem het, sê Hy: Dit is volbring! En Hy het sy hoof gebuig en die gees gegee.
Tog as ek vandag so om my kyk, wil ek amper in wanhoop uitroep:
Dit is maar weer 'klassieke geval van:
"Stank vir dank."
Want as ek so om my kyk na alles wat die mens doen, besef ek dat die mens maar weer vir Jesus wil wegstuur.
Gelukkig onthou ek dan daardie heerlike versekering wat Jesus vir ons gee.
OPG 3:20
Kyk, Ek staan by die deur en Ek klop. As iemand my stem hoor en die deur oopmaak, sal Ek ingaan na hom toe en saam met hom maaltyd hou, en hy met My.
OPG 3:21
Aan hom wat oorwin, sal Ek gee om saam met My te sit op my troon, soos Ek ook oorwin het en saam met my Vader op sy troon gaan sit het.
Hy staan nie voor die deur en skreeu op jou en my nie.
Hy staan ook nie aan die deur en hamer nie. Hy probeer jou of my met ander woorde nie forseer nie.
Nee, Hy staan soos 'n "Gentleman" en Hy klop en die beste ding wat 'n mens in jou hele bestaan vir
jouself op hierdie aarde kan doen, is om die deur van jou hart vir Hom oop te maak.
As jy dit nog nie gedoen het nie, kan jy dit nou doen net daar waar jy nou is.
Dit is hoe maklik dit is.
Sê vir Hom en sê dit uit jou hart uit waaraan Hy klop.
Jesus ek maak my hart nou vir U oop.
Ek neem U aan as my God en my verlosser.
Kom woon in my hart, want ek plaas my self van vandag af in U hand.
As Jy dit gesê het en dit bedoel het, behoort jy nou aan Jesus.
Nou moet jy 'n herder kontak van 'n gemeente wat Christus en Hom as gekruisigde verkondig en hy sal
jou verder leiding gee.
Judas 1:24-25
Aan Hom nou wat magtig is om julle vir struikeling
te bewaar en julle sonder gebrek voor sy heerlikheid te stel met gejuig,
25.
aan die alleenwyse God, ons Verlosser, kom toe heerlikheid en
majesteit, krag en mag, nou tot in alle ewigheid! Amen.
No comments:
Post a Comment
Note: Only a member of this blog may post a comment.