Hoekom het die ryk man in die hel beland?
Ek lees nêrens dat hy 'n slegte en sondige lewe gelewe het nie.
Ek lees wel dat hy geniet het wat ons Here vir hom gegee het maar dit is tog nie verkeerd om te geniet wat ons Here vir jou gee om te geniet nie.
Lees gou weer hier.
LUK16:19 "Daar was eenkeer 'n ryk man wat altyd die fynste en duurste klere gedra het. Hy het in weelde gelewe, en elke maaltyd was soos 'n fees.
Daar is hoegenaamd niks in wat jy nou gelees het, wat sonde kan wees nie.
Wat dit eintlik vir my nog duideliker na vore laat kom dat hy en sy familie nie slegte lewens gelewe het nie is die volgende.
LUK16:27-28 "Toe sê die man weer: 'Vader Abraham, ek smeek u dan, stuur tog vir Lasarus na my pa se huis toe, 28om my vyf broers wat daar is te gaan waarsku. Anders sal hulle ook hier beland waar 'n mens so verskriklik gepynig word.
Hy smeek dat sy broers gewaarsku moet word. Hy vra nie dat iemand hulle moet gaan vertel dat hulle sondige lewens leef nie.
Hulle was een teen tien baie voorbeeldige, gesiene en natuurlik ryk mense.
Jy sien, mense beland na my mening in die hel, nie net oor wat hulle doen nie maar ook oor wat hulle nie doen nie en dit kom volgens my in hierdie verhaal baie duidelik na vore.
Die ryk man het in die hel beland oor wat hy nie gedoen het nie.
Hy het hom nie tot God bekeer en 'n Gees gevulde lewe gelewe nie.
HAND2:36-39 "Die hele volk van Israel moet dit nou aanvaar en vas glo: julle het Jesus op 'n kruis doodgemaak, maar God het Hom die Here en Redder gemaak!"
37Toe die mense dit hoor, het dit hulle aangegryp en hulle vra vir Petrus en die ander apostels: "Broers, wat moet ons nou doen?"
38Petrus antwoord toe: "Elkeen van julle moet hom bekeer en hom laat doop in die naam van Jesus Christus. Dan sal God julle sondes vergewe en julle die Heilige Gees gee. 39Want God se belofte is vir julle en vir julle kinders en almal wat nog vêr is. Dit is bedoel vir almal wat die Here God nog sal roep om na Hom toe te kom."
JHN3:18 "'n Mens wat op Hom vertrou, word nie veroordeel nie, maar 'n mens wat nie hierdie vertroue het nie is reeds veroordeel omdat dit die enigste Seun van God is in wie hy nie wou glo nie.
Jy sien, dit help nie om te dink, omdat ek 'n mooi lewe lei, sal dit met my goed gaan in die hiernamaals nie.
Om die waarheid te sê, dit sal nie eens help as ek dink omdat ek baie godsdienstig is, is ek reg vir die hiernamaals nie.
Kyk net hoe mooi stel Paulus dit vir ons.
FIL3:4-11 Moenie dink dat ek nie ook rede gehad het om op myself te vertrou nie. As daar iemand is wat dink hy kan op sy agtergrond en prestasies vertrou, dan het ek nog meer rede om dit te doen. 5Ek is besny toe ek agt dae oud was omdat ek 'n Israeliet is uit die stam van Benjamin. Ek is van suiwer Joodse bloed en het volgens die strengste eise van hulle wette geleef sodat ek as 'n lid van die Fariseër groep gereken is. 6Die Joodse wette het ek so stiptelik gehou dat daar geen fout was waarop iemand sy vinger kon lê nie. Ek het die Joodse geloof so ywerig ondersteun dat ek selfs die kerk vervolg het.
7Dit is die dinge wat vroeër vir my getel het en belangrik was. Maar toe het ek besef dat al daardie dinge eintlik skadelik is as 'n mens dink aan wat Christus vir ons gedoen het. 8Dit is werklik so. Ek het besef dat enigiets wat ek kan hê eintlik 'n verlies is as ek dit vergelyk met die voorreg wat ek het om Christus my Here te ken. Noudat Christus in my lewe gekom het, beskou ek al daardie dinge as 'n dooie verlies. Dit is vir my net so min werd as vuilgoed, want Christus is al wat nou vir my waarde het. 9As God ons oordeel, wil ek hê sy uitspraak moet wees dat ek aan Christus behoort en dat ek nie probeer het om myself te red deur die wette te gehoorsaam nie. Dit is God self wat my skuld weggeneem het omdat ek op Jesus Christus vertrou. So neem God enigiemand aan wat op Jesus Christus vertrou. 10My begeerte is om Christus so te ken dat die krag wat Hom uit die dood lewendig gemaak het, ook in my sal werk. Ek wil ook in sy lyding deel hê en saam met Hom sterwe 11sodat ek ook saam met Hom uit die dood lewendig kan word.
'n Mooi lewe, selfs 'n mooi godsdienstige lewe, beteken niks as jy nie Jesus aangeneem het as jou Verlosser en Saligmaker nie.
Eintlik is enige iets anders "rubbish."
Onthou jy wat Paulus gesê het.
FIL3:8 Dit is werklik so. Ek het besef dat enigiets wat ek kan hê eintlik 'n verlies is as ek dit vergelyk met die voorreg wat ek het om Christus my Here te ken. Noudat Christus in my lewe gekom het, beskou ek al daardie dinge as n 'n dooie verlies . Dit is vir my net so min werd as vuilgoed, want Christus is al wat nou vir my waarde het.
HAND4:12 "Buiten Hom is daar niemand anders wat 'n mens kan red nie. En behalwe Jesus se naam het God geen ander naam op aarde gegee waardeur mense gered kan word nie."
Kan jy nou sien.
Ek en jy hoef nie na 'n verre sendingveld te gaan nie. Nee! Ons is midde in 'n sendingveld.
Judas 1:24-25
Aan Hom nou wat magtig is om julle vir struikeling te bewaar en julle sonder gebrek voor sy heerlikheid te stel met gejuig,
25.
aan die alleenwyse God, ons Verlosser, kom toe heerlikheid en majesteit, krag en mag, nou tot in alle ewigheid! Amen.
No comments:
Post a Comment
Note: Only a member of this blog may post a comment.