OOR TIENDES


 

Iemand het vir my, my opinie gevra oor tiendes en aangesien baie mense vrae het oor hierdie saak, stuur ek vir jou my sienswyse.

Ek moes mooi te werk gaan om alles wat ek wou sê, in hierdie, nou ja, taamlike groot neutedop te sit. Glo my ek kon nog heelwat geskryf het maar ek hoop, dit wat ek wel geskryf het, sal vir iemand van hulp wees.

Ek gaan nou begin met 'n stelling wat jou dalk gaan verstom.

Ek glo nie in tiendes nie.

Volgens my beskeie mening is tiendes deel van die wet en ons is nie onder die wet nie.

Tiendes is deel van 'n ooreenkoms/kontrak/gelofte tussen die Jode en God.


 

Exo 24:4
En Moses het al die woorde van die HERE opgeskrywe en die môre vroeg hom klaargemaak en onder die berg 'n altaar gebou, en twaalf gedenkstene volgens die twaalf stamme van Israel.

Exo 24:5 En hy het jongmanne van die kinders van Israel gestuur; dié het brandoffers geoffer en as dankoffers bulle vir die HERE geslag.

Exo 24:6 En Moses het die helfte van die bloed geneem en dit in komme gegooi en die helfte van die bloed teen die altaar uitgegooi.

Exo 24:7 En hy het die boek van die verbond geneem en dit voor die ore van die volk gelees. En hulle het gesê: Alles wat die HERE gespreek het, sal ons doen en daarna luister.

Exo 24:8 Toe neem Moses die bloed en gooi dit uit op die volk en sê: Dit is die bloed van die verbond wat die HERE met julle gesluit het op grond van al hierdie woorde.


 

Kyk net weer na die volgende.


 

Exo 24:7
En hy het die boek van die verbond geneem en dit voor die ore van die volk gelees. En hulle het gesê: Alles wat die HERE gespreek het, sal ons doen en daarna luister.

Exo 24:8
Toe neem Moses die bloed en gooi dit uit op die volk en sê: Dit is die bloed van die verbond wat die HERE met julle gesluit het
op grond van al hierdie woorde.


 

Baie duidelik was dit 'n ooreenkoms tussen God en net Israel.

Om die waarheid te sê, voordat Jesus vir jou en my gesterf het, was ek en jy, jy kan maar sê "goners," omdat die wet met al sy wette, ook die oor die tiendes net vir die Jode was. Omdat net hulle en God by daardie verbond/wet/ooreenkoms betrokke was.


 

EFE 2:10 Want ons is sy maaksel, geskape in Christus Jesus tot goeie werke wat God voorberei het, sodat ons daarin kan wandel.

EFE 2:11 Daarom, onthou dat julle wat vroeër heidene in die vlees was en onbesnedenes genoem word deur die sogenaamde besnydenis wat in die vlees met hande verrig word,

EFE 2:12 dat julle in dié tyd sonder Christus was, vervreemd van die burgerskap van Israel en vreemdelinge ten aansien van die verbonde van die belofte, sonder hoop en sonder God in die wêreld.

EFE 2:13 Maar nou in Christus Jesus het julle wat vroeër ver was, naby gekom deur die bloed van Christus.

EFE 2:14 Want Hy is ons vrede, Hy wat albei een gemaak en die middelmuur van skeiding afgebreek het

EFE 2:15 deurdat Hy in sy vlees die vyandskap tot niet gemaak het, naamlik die wet van gebooie wat in insettinge bestaan; sodat Hy, deur vrede te maak, die twee in Homself tot een nuwe mens kon skep

EFE 2:16 en albei in een liggaam met God kon versoen deur die kruis, nadat Hy daaraan die vyandskap doodgemaak het.


 

Lees net gou weer hier.


 

EFE 2:12 dat julle in dié tyd sonder Christus was, vervreemd van die burgerskap van Israel en vreemdelinge ten aansien van die verbonde van die belofte, sonder hoop en sonder God in die wêreld.


 

Sonder God in die wêreld!

"Goners" sonder die wet maar nou 'n uitverkore volk.


 

1PET 2:9 Maar julle is 'n uitverkore geslag, 'n koninklike priesterdom, 'n heilige volk, 'n volk as eiendom verkry, om te verkondig die deugde van Hom wat julle uit die duisternis geroep het tot sy wonderbare lig,

1PET 2:10 julle wat vroeër geen volk was nie, maar nou die volk van God is; aan wie toe geen barmhartigheid bewys is nie, maar nou bewys is.


 

Dit lyk vir my, dat Paulus in hierdie volgende gedeelte vir die mense sê, wat ook

gehoor het, dat hulle moet so en hulle moet sus want dit is in die wet


 

KOL 2:13 En julle, wat dood was deur die misdade en die onbesnedenheid van julle vlees, het Hy saam met Hom lewend gemaak deurdat Hy julle al die misdade vergeef het,

KOL 2:14 en die skuldbrief teen ons, wat met sy insettinge ons vyandig was, uitgedelg en weggeruim het deur dit aan die kruis vas te nael,

KOL 2:15 nadat Hy die owerhede en magte uitgeklee en hulle in die openbaar tentoongestel en daardeur oor hulle getriomfeer het.

KOL 2:16 Laat niemand julle dan oordeel in spys of in drank of met betrekking tot 'n fees of nuwemaan of sabbat nie,


 

Jesus sê die volgende oor die wet.


 

Mat 5:17 Moenie dink dat Ek gekom het om die wet of die profete te ontbind nie. Ek het nie gekom om te ontbind nie, maar om te vervul.


 

Kyk net hoe lees die wet wat Jesus vervul het.


 

Mat 22:36 Meester, wat is die groot gebod in die wet?

Mat 22:37 En Jesus antwoord hom: Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand.

Mat 22:38 Dit is die eerste en groot gebod.

Mat 22:39 En die tweede wat hiermee gelykstaan: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.


 

Daar is vir die kind van God volgens my beskeie mening net twee "moets" en dit het

jy nou net gelees.

Al die ander dinge doen jy omdat jy jou Here en jou naaste lief het.


 

Nêrens maar nêrens in die nuwe testament word daar gepraat van 'n tiende wat jy

moet gee nie.

Daar word verseker gesê.


 

1KOR 16:1 Wat die insameling vir die heiliges betref, moet julle ook so doen soos ek vir die gemeentes van Galásië gereël het.

1KOR 16:2 Op elke eerste dag van die week moet elkeen van julle self opsy sit en opspaar namate sy voorspoed is, sodat die insamelinge nie eers plaasvind as ek kom nie.


 

Jy sien, jy gee soos jou voorspoed is en heerlik deur jou liefde vir jou God en jou

naaste gedwing en as jy min wil gee gaan God jou nou nie met melaats slaan nie, met

ander woorde Hy gaan jou nou nie slaan omdat jy nie meer as sê nou maar 'n 20ste

wil gee nie maar jy moet onthou.


 

2KOR 9:5 Ek het dit dus noodsaaklik geag om die broeders te versoek om vooruit te gaan na julle toe en julle vroeër aangekondigde dankoffer vooraf in orde te bring, sodat dit gereed kan wees as 'n dankoffer en nie as iets wat afgepers is nie.

2KOR 9:6 Maar dink daaraan: Wie spaarsaamlik saai, sal ook spaarsaamlik maai; en wie volop saai, sal ook volop maai.

2KOR 9:7 Laat elkeen gee soos hy hom in sy hart voorneem, nie met droefheid of uit dwang nie, want God het 'n blymoedige gewer lief.

2KOR 9:8 En God het mag om alle genade oorvloedig oor julle te laat wees, sodat julle altyd in alle opsigte volop kan hê en oorvloedig kan wees tot elke goeie werk.


 

Paulus praat van 'n dankoffer wat gehaal sal word en nie van die mense se tiendes nie.

Ons moet verseker gee.

Ons mag baie gee en as ons nie kan nie, mag ons min gee.

My liefde vir ons Here, my medemens en die werk van ons Here is al wat my, om dit so te stel, behoort te dwing om te gee, wat ek in liefde wil gee.


 

Niemand mag my dwing om 'n sogenaamde tiende te gee nie.

Ons here doen dit verseker ook nie.

Soos ek die Woord verstaan is dit nie Bybels nie en daarom, as iemand dit deel van die Evangelie van Christus maak, verkondig die persoon 'n bose leuen.


 


 

Tiendes is volgens wat ek in die Bybel verstaan deel van die wet en ek is nie onder die wet nie.

Ek was voor my bekering nie deel van die wet nie, en het na my bekering ook nie deel daarvan geword nie.

Ek was voor my bekering een van die "goners."

Vir die wat dink dat hulle nog dele van die wet moet nakom, wil ek net op die volgende wys.


 

Gal 3:24 Die wet was dus ons tugmeester na Christus toe, sodat ons geregverdig kan word uit die geloof.

Gal 3:25 Maar nou dat die geloof gekom het, is ons nie meer onder 'n tugmeester nie.

Gal 3:26 Want julle is almal kinders van God deur die geloof in Christus Jesus;

Gal 3:27 want julle almal wat in Christus gedoop is, het julle met Christus beklee.


 

Jesus sê, wat ek en jy moet onthou en doen is:


 

Mat 22:36 Meester, wat is die groot gebod in die wet?

Mat 22:37 En Jesus antwoord hom: Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand.

Mat 22:38 Dit is die eerste en groot gebod.

Mat 22:39 En die tweede wat hiermee gelykstaan: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.

Mat 22:40 Aan hierdie twee gebooie hang die hele wet en die profete.


 

Dan kom Paulus en onderstreep wat Jesus gesê het, as hy skryf.


 

1KOR 13:13 En nou bly geloof, hoop, liefde—hierdie drie; maar die grootste hiervan is die liefde.


 

Jy sien, ek moet gee soos wat ek met liefde in my hart my voorgeneem het en nie soos

ek gedwing voel om te gee nie.

Ek wonder partykeer of ons nie terwille van die god Mammon so hamer op die

gedeelte in die wet nie.

Is dit nie dalk omdat die Christene probeer om twee here te dien nie, dat dit met baie

van ons Christene gaan soos wat dit met ons gaan nie.


 

Mat 6:24 Niemand kan twee here dien nie; want òf hy sal die een haat en die ander liefhê, òf hy sal die een aanhang en die ander verag. Julle kan nie God én Mammon dien nie!


 

Jy sien, ek het tot die gevolgtrekking gekom, dat baie mense dien die Here omdat

hulle bang is vir die hel en nie omdat hulle regtig lief is vir ons Here nie.

So leer ons ook ons mense, dat ons moet gee as ons wil hê dat God ons moet seën en

so gee baie mense, nie omdat hulle lief is vir God en Sy mense nie maar sodat hulle

tog nie moet verarm nie maar veel eerder in oorvloed wil lewe. So asof ons God se

guns kan koop met dit wat Hy ons in die eerste plek gegee het.

So kry jy dit dan dat baie mense onder 'n soort dwang 'n presiese tiende probeer uitwerk. Nie soseer omdat hulle vir God lief is nie maar omdat hulle wil floreer.

Ek sê, ek en jy is deel van die nuwe testament en dit is presies wat dit sê, "nuwe

ooreenkoms/verbond/gelofte/testament."


 

Jesus sê.


 

Mat 26:26 En terwyl hulle eet, neem Jesus die brood, en nadat Hy gedank het, breek Hy dit en gee dit aan sy dissipels en sê: Neem, eet, dit is my liggaam.

Mat 26:27 Toe neem Hy die beker, en nadat Hy gedank het, gee Hy dit aan hulle en sê: Drink almal daaruit.

Want dit is my bloed, die bloed van die nuwe testament, wat vir baie uitgestort word

tot vergifnis van sondes.


 

Nou werk dit vir my so:

Ons gee soos wat ons floreer en dan, as ek kan, is dit

onmoontlik om van my te verwag om net 'n tiende uit te werk. Buitendien ek het in

elk geval gelukkig ook nie die tyd om dit te doen nie.

So as jy besluit wat jy vir God wil gee, kyk net wat jy het en bespreek dit opreg met

daardie liefde in jou hart vir Hom, met jou liefdevolle Vader en jy sal weet wat

jy moet gee En weet jy wat?

Ons here gaan baie lekkerder volgens die Woord, voel oor dit wat jy dan gee,, as 'n biljoenêr wat 'n gedwonge tiende gee.

Dit geld vir jou geld, tyd en naasteliefde en wat anders jy ook al wil gee.


 

Die volgende dagstukkies wat ek geskryf het, kan help om hierdie sienswyse van my nog beter te verduidelik en ek stuur dit op aanvraag met die grootste liefde aan jou.

(Hoe heerlik! Jy en ek is vry Kom ons Wandel met hierdie vryheid in die weë van ons Here)

(Die wet deur Moses en die genade en waarheid deur Jesus)

(Die liefde die vervulling van die wet)

(wie volop saai, sal ook volop maai.).


 

Judas 1:24-25
Aan Hom nou wat magtig is om julle vir struikeling

te bewaar en julle sonder gebrek voor sy heerlikheid te stel met gejuig,

25.
aan die alleenwyse God, ons Verlosser, kom toe heerlikheid en majesteit, krag en mag, nou tot in alle ewigheid! Amen.


 

Groete

Sakkie

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.