Iemand het my gevra dat as jy al baie gebid het en God jou nie antwoord nie, of jy nog moet aanhou om te bid. Is dit nie dalk dat God nie eens meer na jou luister nie?
Ek stuur die antwoord wat ons Here op my hart gelê het om vir die persoon te stuur ook vir jou. Miskien weet jy van iemand wat met die selfde vrae worstel.
Ek wil begin om te sê, dat ek my nie uitgee as 'n groot teoloog nie. Ek weet egter dat ek 'n kind van God is en dat ek in alles waaroor ek met mense deel, God deur Sy Woord as my hoogste gesag het. So ek wil dan sommer dadelik vir jou sê dat ek definitief nie al die antwoorde het nie maar ek kan met jou deel dit wat ek het en die eerste ding wat ek vir jou moet sê, is dat 'n mens verseker moet aanhou om te bid.
Luk 18:1 En Hy het ook aan hulle 'n gelykenis vertel met die oog daarop dat 'n
mens gedurig moet bid en nie moedeloos word nie,
Luk 18:2
en gesê: Daar was 'n regter in 'n stad wat God nie gevrees en geen mens
ontsien het nie.
Luk 18:3
En daar was in daardie stad 'n weduwee, en sy het gedurig na hom
gekom en gesê: Doen reg aan my teenoor my teëparty.
Luk 18:4
En 'n tyd lank wou hy nie; maar daarna het hy by homself gesê: Al vrees
ek God ook nie en al ontsien ek geen mens nie,
Luk 18:5
tog sal ek, omdat hierdie weduwee my moeite gee, aan haar reg doen,
sodat sy nie eindelik kom en my in die gesig slaan nie.
Luk 18:6
Toe sê die Here: Hoor wat die onregverdige regter sê.
Luk 18:7
Sal God dan nie reg doen aan sy uitverkorenes wat dag en nag tot Hom
roep nie, al is Hy ook lankmoedig in hulle geval?
Luk 18:8
Ek sê vir julle dat Hy gou aan hulle reg sal doen; maar as die Seun van
die mens kom, sal Hy wel die geloof op die aarde vind?
Ek persoonlik vra ook nou al lank vir ons Here om my in 'n sekere saak te help en Hy het nou nog niks vir my gedoen wat ek kon sien nie maar dit gaan my nie laat ophou nie.
Jy sien vir my is die feit dat Hy my nie geantwoord het nie, nie 'n bewys dat hy my nie hoor nie maar 'n bewys dat Hy weet dat dit nie vir my nou die regte ding is om te ontvang nie, of dat dit nie die regte tyd is om dit te ontvang nie.
Paulus was 'n man wat so na aan ons Here gelewe het, dat al was hy nie eens by nie en hulle het klere wat hy gedra het op siekes gelê, het die mense gesond geword.
Handelinge 19 vanaf vers 11:
11God het besondere wonderwerke deur Paulus gedoen. 12Selfs voorskote en sakdoeke wat hy gedra het, is na siek mense toe geneem en dan het hulle gesond geword van hulle siektes, en as daar van hulle was wat bose geeste gehad het, het die geeste uit hulle uitgegaan.
Hierdie magtige werktuig in die hand van ons Here getuig van 'n probleem in sy eie lewe as volg.
2 Korintiërs 12 vanaf vers 8:
8Ek het drie maal gebid oor hierdie saak en die Here gevra om dit weg te neem. 9Maar Hy het vir my gesê: "Die genade wat Ek jou gee, is genoeg. Hoe swakker jy is, hoe meer kan my krag deur jou werk." Daarom verkies ek nou om oor my swakheid groot te praat, want as ek swak is, kan die krag van Christus in my woon.
Soos ek gesê het, daar is baie dinge wat ek nie verstaan nie. Ek verstaan byvoorbeeld nie hoekom ons Here die duiwel nie sommer daar aan die begin tot niet gemaak het nie. Hy kan mos enigiets doen?
Ek verstaan ook nie hoekom in Daniël se geval God die volgende toegelaat het terwyl Daniël so lank gebid het nie.
Daniël 10 vanaf vers 10:
10Skielik het 'n hand my gegryp en my op my hande en knieë laat staan, maar ek het nog baie gebewe. 11Die engel sê toe vir my: "Daniël, die Here het jou baie lief en het my na jou toe gestuur. Staan nou op en luister wat ek sê." Toe hy dit sê, het ek al bewende regop gaan staan. 12Hy praat toe verder: "Daniël, jy hoef nie bang te wees nie. Jou gebed is in die hemel gehoor van die eerste dag af toe jy probeer verstaan het en toe jy jou voor God begin verneder het. Dit is juis omdat jy gebid het dat ek gestuur is om alles aan jou te verduidelik. 13Maar die engel wat beheer het oor die Persiese ryk het my een en twintig dae lank verhinder om te kom totdat Migael, een van die vernaamste engele, my kom help het, en ek kon sien hoe hy die oorwinning behaal oor die engel van die Persiese koninkryk. 14Nou het ek gekom om jou te wys wat met jou volk in die toekoms sal gebeur, want hierdie visioen het met die toekoms te doen."
Ek kyk na die dinge wat ek nie verstaan nie, soos my groot held Paulus daarna kyk.
1 Korintiërs 13 vers 12:
12Net so kan ons nou nog die dinge van God nie heeltemal verstaan nie. Ons is soos iemand wat in 'n spieël iets sien wat hy nie kan uitmaak nie, maar eendag sal ons God werklik van naby sien. Wat ons op die oomblik weet, is maar 'n deeltjie, maar eendag sal ons alles weet, net soos God nou reeds alles van my af weet.
Al verstaan ek dit nie, gaan ek elke keer met my probleme en met my behoeftes en my begeertes na ons Here toe, met my gedagtes as volg ingestel.
Filippense
4 vanaf vers 6:
6Julle moet julle nie oor enigiets bekommer nie. Bid daaroor en sê vir God duidelik wat julle wil hê. Vra Hom om dit vir julle te doen en sê vir Hom dankie! 7Dan sal God julle sy wonderlike vrede gee wat 'n mens nooit met jou verstand kan verklaar nie. Sy vrede sal wag hou oor julle hart en julle gedagtes omdat julle aan Christus Jesus behoort.
Wat ook al met my gebed gebeur, of my gebed beantwoord word of nie, ek kyk so daarna en ek glo ons moet so na ons gebede kyk.
Habakuk
3 vanaf vers 17:
17Selfs al sou die vyebome ophou dra en die wingerde sonder druiwe wees
en die olyfbome geen olywe aan hê nie; selfs al sou daar geen graan meer op die lande wees en geen skape meer in die kraal of beeste in die stalle nie,
18sal ek tog vreugde hê en bly wees oor die Here, die God wat my red.
19Die Here wat regeer, gee my krag.
Ek weet nie hoekom Hy my nie altyd antwoord soos ek geantwoord wil word nie. Ek weet egter hierdie een ding verseker.
Hy is die wonderlikste Vader wat in die heelal is en Hy weet wat vir my die beste is.
Daarom kan ek saam met Dawid opgewonde uitroep:
Psalm 38 vers 10:
10Here, U ken al my verlange en U kan sien hoe ek sug.
As ek dit dan so kan opsom:
Jesus sê ons moet aanhou bid.
Jesus sê dat ons 'n antwoord sal kry.
Dit mag dalk nie die antwoord wees wat ek verwag, of voor gevra het nie maar God sal my antwoord.
Jesus het ook in Getsemane drie maal gebid en gevra dat as dit moontlik is, dit wat vir Hom voorlê, moet verby gaan as dit ons Vader se wil is en Hy het die antwoord wat Hy gekry het aanvaar, al was dit nie wat Hy gevra het nie.
Dit was egter die beste wat ooit in die ganse skepping kon gebeur het.
Jesus bid in Getsemane
36Jesus neem hulle toe na 'n plek wat Getsemane genoem word. Daar het Hy vir sy dissipels gesê: "Wag julle hier solank Ek daar anderkant gaan bid." 37Hy het Petrus met Hom saamgeneem en ook Sebedeus se twee seuns Jakobus en Johannes. Toe pak ontsteltenis en benoudheid Hom beet 38en Hy sê vir hulle: "Die ontsteltenis het nou vir My te veel geword. Bly hier by My en hou wag."
39Hy gaan toe 'n entjie verder en val vooroor op die grond en bid: "My Vader, as dit moontlik is, neem tog hierdie smart weg, hierdie bitter beker wat Ek moet drink! Maar laat dit gebeur soos U dit wil hê, nie soos Ek wil nie."
40Toe Hy weer by die drie dissipels terugkom, was hulle vas aan die slaap. Hy sê toe vir Petrus: "Kon jy nie eers 'n uur lank wag hou nie? 41Julle moet wakker wees en bid dat julle nie aan die versoeking sal toegee nie. 'n Mens wil in jou hart graag teen die versoeking veg, maar die menslike geaardheid het nie die krag om dit te doen nie."
42Hy het toe weer 'n tweede keer gaan bid: "My Vader, as hierdie bitter beker, hierdie smart, nie weggeneem kan word sonder dat Ek dit drink nie, laat dit dan gebeur soos U dit wil hê."
43Toe Hy weer by hulle kom, was hulle weer aan die slaap, want die vaak het vir hulle te veel geword. 44Hy het weer 'n derde keer van hulle af weggegaan en gaan bid. Hy het weer dieselfde gebed as vantevore gebid.
Wat ook al gebeur as ons in die geloof bid, dit wat gebeur, is die beste wat in die ganse skepping met ons kan gebeur.
Ek sluit af met hierdie heerlike gedagte van my groot held Paulus.
Romeine 8 vanaf vers 25:
25Maar as dit iets is wat nog nie gebeur het nie, dan wag ons geduldig daarvoor.
26In hierdie saak help die Heilige Gees ons ook, want ons is swak. Ons weet nie mooi hoe om met God te praat as ons bid nie, maar die Gees bid vir ons by God op 'n manier wat nie in woorde uitgedruk kan word nie. 27God ken die harte van mense deur en deur en Hy weet ook wat die Gees bedoel. Want wat die Gees vir ons by God bid, is ook wat God wil.
Oorwinning onder alle omstandighede
28Ons weet dat God alles wat gebeur, laat saamwerk tot ons voordeel as ons Hom
liefhet, want God het ons geroep omdat Hy vooraf so besluit het.
Mag dit vir jou 'n heerlike dag wees.
Judas 1:24-25
Aan Hom nou wat magtig is om julle vir struikeling te bewaar en julle sonder gebrek voor sy heerlikheid te stel met gejuig,
25.
aan die alleenwyse God, ons Verlosser, kom toe heerlikheid en majesteit, krag en mag, nou tot in alle ewigheid! Amen.
No comments:
Post a Comment
Note: Only a member of this blog may post a comment.