Hierdie lied waaroor ek nou gaan getuig, is een van die liedere beskikbaar op 'n CD.
Eendag het God vir my iets geopenbaar , wat soos my pa destyds sou gesê het, " an eye opener" was.
Soos die Kerstyd nader kom begin almal met Kersfees opvoerings en dan vertel ons kinders van die Kersverhaal. In die opvoerings beeld ons dan die Kersverhaal uit soos wat ons dit uit die Bybel kry.
Ons vertel aan ons kinders die storie van die herders, van die wyse manne, van die engele en van die Bethlehem ster, alles soos wat dit in die Bybel voorkom. Dan vertel ons ook baie keer van dinge wat nie in die Bybel voorkom nie maar wat ons gesonde verstand afleidings maak en tog daar moes gewees het. Soos in die prentjies sal ons miskien 'n koei en 'n donkie in die stal by Maria en Josef sit, wat natuurlik nie verkeerd is nie. In baie mense se huise sal ons ook 'n kersboom sien, helder liggies en versierings wat aandui dat dit nou die Kerstyd is. Ons sing en hoor ook liedere oor Kersfees van al die mooi dinge wat in die Bybel geskryf staan.
Een deel en na my mening 'n baie belangrike deel van die Kersverhaal sien of hoor ek egter nooit in die Kersverhaal nie. Nêrens het ek al 'n lied gehoor, 'n Kers opvoering gesien, of 'n Kers verhaal gelees, (buiten in die Bybel), van twee belangrike persone naamlik Símeon die profeet en Anna die profetes.
Toe ek weer die spesifieke gedeelte gaan lees, het ek gedink dat as jy 'n opvoering van die geboorte van Jesus wil afsluit, sou jy dit nie beter kon doen as om met die gebeurtenis in die tempel af te sluit nie. Tog het ek dit nog nooit teë gekom nie, behalwe waar ons dit in Lukas lees:
Luk 2:25 tot 33:
25
En daar was 'n man in Jerusalem met die naam van Símeon; en hierdie man was regverdig en vroom en het die vertroosting van Israel verwag, en die Heilige Gees was op hom. 26 En aan hom was dit deur die Heilige Gees geopenbaar dat hy die dood nie sou sien voordat hy die Christus van die Here gesien het nie. 27 En hy het deur die Gees in die tempel gekom; en toe die ouers die Kindjie Jesus inbring om met Hom te handel volgens die gebruik van die wet, 28 het hy Hom in sy arms geneem en God geloof en gesê: 29 Nou laat U, Here, u dienskneg gaan in vrede volgens u woord, 30 omdat my oë u heil gesien het, 31 wat U berei het voor die oë van al die volke— 32 'n lig tot
verligting van die nasies en tot heerlikheid van U volk
Israel. 33 En
Josef en Sy moeder het hulle verwonder oor die dinge wat van Hom gesê is.
Luk 2:36 tot 40:
36 En daar was Anna, 'n profetes, die dogter van Fánuel, uit die stam van Aser. Sy was op baie ver gevorderde leeftyd en het van haar maagdom af sewe jaar lank met haar man saamgelewe; 37 en sy was 'n weduwee van omtrent vier en tagtig jaar. Sy het nie weggebly van die tempel nie, en met vaste en gebede God gedien, nag en dag. 38 En sy het in dieselfde uur daar gekom en die Here geprys en van Hom gespreek met almal in Jerusalem wat die verlossing verwag het. 39 En toe hulle alles volbring het wat volgens die wet van die Here was, het hulle teruggegaan na Galiléa, na hulle stad Násaret. 40 En die Kindjie het gegroei en sterk geword in die Gees en vol van wysheid. En die genade van God was op Hom.
Hierdie twee bejaarde mense is hier besig om vir Josef en Maria en vir die hele wereld te sê hier is God se groot kersgeskenk aan die mensdom, hier begin die nuwe testament.
Ons het die twee bejaardes so maklik uit ons Kersverhaal gehaal en die meeste mense haal vandag nog steeds die bejaardes uit hulle Kersfees uit. Bejaardes word in ouetehuise en in kamertjies eenkant vergete gelos, terwyl daar fees gevier word. So gaan daar dan ook in talle huise reg oor die wêreld kersfees gevier word sonder Christus en sonder die bejaardes.
Aan al hierdie dinge het ek gedink, toe gee God vir my die lied – Vergeet nie die bejaardes.
Vergeet Nie Die Bejaardes
Vers 1
Ons vertel altyd ons kinders, die Kersverhaal o so mooi.
Ons vertel van die wyse manne en die Betlehem ster tog te mooi.
Ons vertel hul van die herders en die krippie en van die stal.
Maar een deel vertel ons hul nooit nie in een deel bly ons hulle faal,
Die deel van die twee bejaardes wat hul tree na die tempel toe wend.
Die twee wat reeds geweet het, hier begin die nuwe testament.
Koor:
Ja, hul was net twee bejaardes maar hulle het toe reeds geweet.
Hul was Anna die profetes en Símeon die profeet.
Hul was Anna die profetes en Símeon die profeet.
Vers 2
As die Kersfees maand weer hier is, as dit weer Kersfees is.
En die liggies flikker te vrolik en die mense almal so bly is.
En die kindertjies se laggies, so vrolik om jou opklink.
Onthou om stil te gaan staan vriend en aan die bejaardes te dink.
Ja, al daardie bejaardes, oor wie die skemer reeds daal.
En moet hul asseblief nie, uit jou Kersfees uithaal.
Koor:
Ja, dink aan al die bejaardes en moet hul tog nie vergeet.
Soos vir Anna die profetes en Símeon die profeet.
Soos vir Anna die profetes en vir Símeon die profeet.
Judas 1:24-25
Aan Hom nou wat magtig is om julle vir struikeling te bewaar en julle sonder gebrek voor sy heerlikheid te stel met gejuig,
25.
aan die alleenwyse God, ons Verlosser, kom toe heerlikheid en majesteit, krag en mag, nou tot in alle ewigheid! Amen.
No comments:
Post a Comment
Note: Only a member of this blog may post a comment.