WAT OPGEVAAR HET NA DIE HEMEL

(Lees Handelinge 1:1-11)


 

Wat opgevaar het na die hemel


 

Toe Jesus opgevaar het na die hemel, vertel Lukas, het 'n wolk hom weggeneem sodat hulle Hom nie langer kon sien nie. Toe ek jare gelede in Holland studeer het, het een van ons professore opgewonde geraak oor die betekenis van die wolk. Ek onthou nou nog hoe hy dit gestel het.

Die wolk het Jesus bedek en sy dissipels kon Hom nie meer sien nie. Met sy hemelvaart, toe Jesus afskeid geneem het van sy volgelinge, het 'n nuwe era in hul verhouding met Hom aangebreek. Wat anderkant die wolk gebeur het, was in misterie gehul. Hy het op sy troon, aan die regterhand van die Vader, sy plek ingeneem. Hy was in die hemel – hulle was op aarde. Hoe kan enige mense oog na die heilige God kyk? Hoe kan ons Hom ooit verstaan? Daar is baie dinge wat God nou nog voor ons oë bedek.

Maar 'n wolk is ook deurdringbaar. Al kan jy nie deur 'n wolk sien nie, kan jy jou hand dwarsdeur die newels steek! Jesus was nie meer sigbaar nie, maar tog baie naby – so naby dat 'n mens met Hom kan praat, dat jy as't ware aan Hom mag raak. Dis dié dat die dissipels na sy hemelvaart kon voortgaan met hul lewens: Jesus was weg…maar ook nie!

Dis iets om vandag aan te dink: Jesus Christus, die Oorwinnaar, sit op die troon in heerlikheid. So groot en heilig is Hy dat ons Hom nie in die gesig kan kyk nie – soos keiser Hadrianus ook nie reguit in die son kon kyk nie (vgl 2 Junie se dagstukkie). Maar Hy is nader aan ons as wat ons dink!


 

Gebed: O Here Jesus, dankie dat U naby aan my is – so naby dat ek maar met U mag praat en dat ek vandag met U mag deel.


 

Kopiereg 2004 Radiokansel.


 

Besoek ons webblad by www.radiokansel.co.za


 

Judas 1:24-25
Aan Hom nou wat magtig is om julle vir struikeling te bewaar en julle sonder gebrek voor sy heerlikheid te stel met gejuig,

25.
aan die alleenwyse God, ons Verlosser, kom toe heerlikheid en majesteit, krag en mag, nou tot in alle ewigheid! Amen.


 

Groete

Sakkie

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.