Ek wil 'n mooi storie wat ek gehoor het met jou deel.
Daar word vertel van hierdie bejaarde boer wat baie jare gelede gelewe het.
Hy het dikwels in die kerk opgespring, sy hande in die lug gesteek en uitgeroep:
"Prys die Here!"
Van die mense in die kerk het nie daarvan gehou nie en die kerkraad het toe besluit, nadat hulle 'n paar klagtes ontvang het, om 'n afvaardiging na hom te stuur, om aan hom te verduidelik dat dit vir die gemeente 'n probleem is.
Toe die afvaardiging, bestaande uit die Pastoor en twee ouderling op die plaas aankom, sê die boer se vrou dat hy met die muile in die land is, besig om te ploeg.
Hulle sê toe dat hulle sommer na die land sal stap en daar met die broer gesels.
So gesê, so gedaan.
By die land aangekom, sien die boer hulle en bring die muile tot stilstand, neem die leisels stewig in sy regterhand vas en wag vir die broers.
Toe hulle by hom kom en nadat hulle gegroet het, verduidelik die boer, dat hulle moet verskoon dat hy nie na hulle gegaan het nie maar dat hierdie muile nog taamlik senuagtig is en sommer maklik op loop gaan.
Die broers sê toe dat hulle heeltemal verstaan en gaan toe voort om die rede vir hulle besoek aan die boer te verduidelik. Toe hulle klaar vertel en gevra het dat hy tog nie meer in die kerk sommer moet opspring en:
"Prys die Here," sê nie, reageer die boer as volg.
Vir 'n ruk het hy kop onderstebo gestaan, nog steeds met die leisels van die muile stewig in sy regter hand vas . Toe kyk hy op en sê:
"Ek is vreeslik jammer dat ek mense in die kerk te na gekom het as ek so opspring, my hande in die lig opsteek en prys die Here uitroep maar ek kan nie anders nie. Veral as ek so na die preek luister en ek dink hoe lief ons Here my het en wat Jesus vir my op Golgota gedoen het en hoe Hy dit vir my moontlik gemaak het, om enige tyd met ons Here te praat en hoe …
Sjoe! Pastoor nou kan ek dit nie meer inhou nie! Hou tog net gou vir my hierdie leisels vas!"
Wanneer laas het jy die leisels van die muile van jou besige lewe sommer net gelos en ons Here geprys vir wat hy alles elke dag vir jou doen?
Psm 28:2 Hoor die stem van my smekinge as ek U aanroep om hulp, as ek my hande ophef na die binneste van u heiligdom.
Psm 63:3 Só het ek U in die heiligdom aanskou, om u sterkte en u heerlikheid te sien.
Psm 63:4 Want u goedertierenheid is beter as die lewe; my lippe moet U prys.
Psm 63:5 Só sal ek U prys my lewe lank, in u Naam my hande ophef.
Psm 143:6
Ek brei my hande tot U uit; my siel dors na U soos 'n uitgedorde land. Sela.
Judas 1:24-25
Aan Hom nou wat magtig is om julle vir struikeling te bewaar en julle sonder gebrek voor sy heerlikheid te stel met gejuig,
25.
aan die alleenwyse God, ons Verlosser, kom toe heerlikheid en majesteit, krag en mag, nou tot in alle ewigheid! Amen.
No comments:
Post a Comment
Note: Only a member of this blog may post a comment.