DIE ONDERSKEID TUSSEN SIEKTE EN DUIWEL


 

Ek wil met jou deel oor 'n observasie wat ek gemaak het en wat vir my ontstellend is.

Baie keer word daar vir kinders van God gebid deur hande oplegging en dan volg die volgende woorde in een of ander variasie.

"Ek bestraf jou kopseer verlaat hierdie persoon."

As die kopseer mee gepraat kan word, suggereer jy dat die kopseer kan hoor. Dan is die kopseer tog een of ander gees.

Of, en hier gaan ek maar my eie ondervinding as voorbeeld gebruik.

By geleentheid, het mense al vir my gebid en dan die blinde duiwel in my beveel om my te verlaat.

Dit lyk partykeer vir my, dat daar is mense wat dink dat alles wat met jou kan verkeerd gaan, een of ander duiwel is.

Ek dink dat ons, ons mense beter lyding in die kerk moet gee hoe om vir mense die hande op te lê en te bid.

Ek het al baie gehoor hoe mense in die kerk, vir mede bloed gewaste kinders die hande oplê en dan vir die rook duiwel of die depressie duiwel of soos in my geval die blinde duiwel ens.bid.

Ek sê nie dat daar nie blinde duiwels of stom duiwels is nie.

Partykeer wonder ek net of daar nie dalk meer stom duiwels moes gewees het nie, dan sal daar dalk minder geskinder word en as daar dalk meer blinde duiwels gewees het sou daar dalk minder op mense neer gesien gewees het. Wie weet dan sal daar dalk ook minder van 'n kleur probleem gewees het.

Ek onthou jare gelede kom ons op 'n plek en daar is 'n man en ek, met die liefde van God wat in my is, druk hom teen my vas. Toe ons wegstap vra die man wat saam met my geloop het, met so 'n, "dit moes jy nie gedoen het nie," klank in sy stem.

"Weet jy dat daardie man nie wit is nie?" maar ek dwaal af.

Ek sê, na my beskeie mening, is dit onmoontlik vir iemand wat Jesus aangeneem het as sy of haar Saligmaker en gedoop is, met ander woorde, hul beklee het met Christus en in Sy weë wandel, dat so iemand 'n duiwel in hom of haar kan hê.

Vra jouself hierdie vraag.

Sal jy in 'n huis woon, waar jy weet dat daar 'n uitgegroeide, kom ons sê, drie meter adder woon?

As ek nou vir jou bid en jou die hande oplê en ek dryf daardie migraine duiwel uit jou uit, verkondig ek aan almal wat hoor, dat hierdie kind van God in wie Christus woon, daar ook 'n duiwel woon. Met ander woorde, ek sê eintlik vir almal wat hoor dat Jesus deel 'n woning met die adder wat God die Vader uit die Hemel uit gegooi het.

Kan jy nou sien hoe belaglik ons partykeer optree weens onkunde.

Daar is 'n verskil tussen duiwels en siektes en die Bybel wys dit ook duidelik vir ons.

Daar is baie voorbeelde maar ek gaan net twee hier noem.


 

Mrk 1:34 En baie wat aan allerhande siektes gely het, het Hy gesond gemaak en baie duiwels uitgedryf en die duiwels nie toegelaat om te praat nie, omdat hulle Hom geken het.


 

Jesus het hier nie siekte duiwels uit gedryf nie, Hy het:


 

Mrk 1:34 En baie wat aan allerhande siektes gely het, het Hy gesond gemaak…


 

Dan het Hy ook duiwels uit gedryf.


 

Mrk 1:34en baie duiwels uitgedryf en die duiwels nie toegelaat om te praat nie, omdat hulle Hom geken het.


 

Hier is my tweede voorbeeld en ek neem dit sommer ook uit die evangelie van

Markus.


 

Mrk 3:14 En Hy het twaalf aangestel, sodat hulle saam met Hom kon wees en Hy hulle kon uitstuur om te preek

Mrk 3:15 en mag te hê om siektes te genees en die duiwels uit te dryf.


 

Hul was mag gegee om twee take te verrig.

Hul was mag gegee om siektes te genees en hulle was mag gegee om duiwels uit te

dryf.


 

Ek kan nie aan een geleentheid dink waar Jesus die siekte wat Hy genees het

aangespreek het nie, behalwe in die gevalle waar die Bybel baie duidelik sê dat die

persoon duiwels in hom gehad het.

Ek gee weer twee voorbeelde.


 

Mat 9:6 Maar dat julle kan weet dat die Seun van die mens mag het om op aarde sondes te vergewe—toe sê Hy vir die verlamde man: Staan op, neem jou bed op en gaan na jou huis toe.


 

Jesus praat nie met die siekte nie, om die dood eenvoudige rede, dat die siekte nie 'n

persoon of duiwel is nie, dit is 'n toestand.

Nog een voorbeeld.


 

Luk 18:40 En Jesus het gaan staan en bevel gegee dat hy na Hom gebring moes word; en toe hy naby kom, vra Hy hom

Luk 18:41 en sê: Wat wil jy hê moet Ek vir jou doen? En hy antwoord: Here, dat ek kan sien.

Luk 18:42 En Jesus sê vir hom: Sien! Jou geloof het jou gered.


 

Kom ons kyk ook gou hoe het die dissipels opgetree wanneer hulle met 'n

siektetoestand te doen gekry het. Dit is tog vanselfsprekend dat hulle die situasie sal

hanteer soos wat Jesus hulle in hul drie jaar van opleiding geleer het om te doen.


 

HAN 3:2 En daar is 'n sekere man aangedra wat van sy geboorte af kreupel was; hulle het hom elke dag neergesit by die tempelpoort wat die Skone genoem word, om 'n aalmoes te vra van die wat in die tempel ingaan.

HAN 3:3 Toe hy sien dat Petrus en Johannes die tempel wou binnegaan, het hy om 'n aalmoes gevra.

HAN 3:4 En Petrus saam met Johannes het hom stip aangekyk en gesê: Kyk na ons.

HAN 3:5 En hy het sy oë op hulle gehou in die verwagting dat hy iets van hulle sou ontvang.

HAN 3:6 Maar Petrus sê: Silwer en goud het ek nie; maar wat ek het, dit gee ek vir jou: In die Naam van Jesus Christus, die Nasaréner, staan op en loop!

HAN 3:7 Toe gryp hy hom aan sy regterhand en rig hom op, en onmiddellik het sy voete en enkels sterk geword.


 

Nog 'n voorbeeld.


 

HAN 9:33 en hy het daar 'n man gevind met die naam van Enéas, wat al agt jaar bedlêend en verlam was.

HAN 9:34 En Petrus sê vir hom: Enéas, Jesus Christus maak jou gesond; staan op en maak jou bed op! En hy het dadelik opgestaan.


 

Ons moet tog asseblief ook nie dink, dat as die persoon nie genees word nie, die

persoon noodwendig kleingelowig, of vol duiwels is nie.

Van Paulus een van die grootste gelowiges van alle tye word die volgende vertel.


 

HAN 19:11 En God het buitengewone kragte deur die hande van Paulus gedoen,

HAN 19:12 sodat selfs wanneer doeke of voorskote wat aan sy lyf was, op die siekes gelê is, die siektes van hulle gewyk en die bose geeste van hulle uitgegaan het.


 

Jy kan nie veel meer heilig kry as dit nie en Hy getuig van homself as volg.


 

2KOR 12:7 En dat ek my oor die voortreflikheid van die openbaringe nie sou verhef nie, is my 'n doring in die vlees gegee, 'n engel van die Satan, om my met die vuis te slaan, dat ek my nie sou verhef nie.

2KOR 12:8 Hieroor het ek die Here drie maal gebid, dat hy van my sou wyk.

2KOR 12:9 En Hy het vir my gesê: My genade is vir jou genoeg, want my krag word in swakheid volbring. Baie liewer sal ek dus in my swakhede roem, sodat die krag van Christus in my kan woon.


 

Ons weet nie wat die probleem in sy lewe was nie maar ons weet dat ten spyte van die

probleem, hy nog een van die grootste volgelinge van Jesus was, wat ooit op aarde

geloop het.

As ek hierdie onderwerp dan kan opsom soos wat ek dit sien.

Wanneer ek vir iemand bid wat siek is, dan lê ek my hande op die persoon en ek gaan

na my God in die Naam van Jesus en ek praat met my God oor die siekte.

Wanneer ek vir iemand bid in wie daar 'n bose gees is, dan lê ek nie noodwendig my

hande op die persoon nie maar ek spreek verseker die gees aan en ek beveel hom met

die Gesag wat in my is, in die Naam van Jesus, die enigste Naam wat vir die mens

gegee is waardeur ons gered kan word, om die persoon te verlaat.


 

HAN 4:12 En die saligheid is in niemand anders nie, want daar is ook geen ander naam onder die hemel wat onder die mense gegee is, waardeur ons gered moet word nie.


 

Judas 1:24-25
Aan Hom nou wat magtig is om julle vir struikeling te bewaar en julle sonder gebrek voor sy heerlikheid te stel met gejuig,

25.
aan die alleenwyse God, ons Verlosser, kom toe heerlikheid en majesteit, krag en mag, nou tot in alle ewigheid! Amen.


 

Groete

Sakkie

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.