Ek het 'n e-mail gekry en dit het daaroor gegaan of iemand 'n kind van God kan vervloek, of dan 'n vloek oor jou uitspreek, of dan 'n binding van een of ander aard op jou plaas.
Ek sal maar myself nou as voorbeeld gebruik en jou vertel hoedat ek dit verstaan en uitlewe.
Ek kan maar net jammer voel vir die persoon wat my vervloek of 'n vloek, of binding van watter aard ook al op my wil plaas, want sien, ek is God se eiendom.
Tit 2:14 wat Homself vir ons gegee het om ons te verlos van alle ongeregtigheid en vir Homself 'n volk as sy eiendom te reinig, ywerig in goeie werke.
Tit 2:15 Spreek hierdie dinge en vermaan en bestraf in alle erns. Laat niemand jou verag nie.
Nog 'n voorbeeld.
1PET 2:9 Maar julle is 'n uitverkore geslag, 'n koninklike priesterdom, 'n heilige volk, 'n volk as eiendom verkry, om te verkondig die deugde van Hom wat julle uit die duisternis geroep het tot sy wonderbare lig,
1PET 2:10 julle wat vroeër geen volk was nie, maar nou die volk van God is; aan wie toe geen barmhartigheid bewys is nie, maar nou bewys is.
Ek dink, ons besef nie altyd, wie en wat ons is nie.
Lees gou hier.
Rom 8:16 Die Gees self getuig saam met ons gees dat ons kinders van God is;
Rom 8:17 en as ons kinders is, dan ook erfgename, erfgename van God en mede erfgename van Christus, as ons naamlik saam met Hom ly, sodat ons ook saam met Hom verheerlik kan word.
As jy so daarna kyk, maak dit wat Jesus gesê het sommer ook baie meer sin.
Mat 5:44 Maar Ek sê vir julle: Julle moet jul vyande liefhê; seën die wat vir julle vervloek, doen goed aan die wat vir julle haat, en bid vir die wat julle beledig en julle vervolg;
Mat 5:45 sodat julle kinders kan word van julle Vader wat in die hemele is; want Hy laat sy son opgaan oor slegtes en goeies, en Hy laat reën op regverdiges en onregverdiges.
Jy sien as iemand vieslik met my is, doen hy eintlik so 'n dwase ding, dat as ek nie
vir hom bid nie, het hy probleme, groot probleme.
Dit is dan ook, so glo ek, een van die redes waarom ons die opdrag kry om vir sulke mense te bid. Want, dit is nie ons nie maar hulle, wat deur hulle optrede teenoor ons groot probleme tegemoet gaan.
My Vader gaan nie sommer dit wat iemand aan 'n mede erfgenaam van Christus doen
sommer so laat verby gaan nie.
Nou moet ek tog nie dink, ek kan nou maar net stilbly en hy gaan les opsê nie.
As ek dit doen, speel ek so reg in die hand van satan, want dan is ek ongehoorsaam.
Dan oortree ek 'n direkte bevel van Jesus.
Luk 6:27 Maar Ek sê vir julle wat luister: Julle moet jul vyande liefhê en goed doen aan die wat vir julle haat.
Luk 6:28 Seën die wat vir julle vervloek, en bid vir die wat julle beledig.
Sien jy die bevel?
Dit is nie, dat ek mag vir die persoon lief wees, as ek so voel nie.
Ek het nie 'n keuse nie. Ek word 'n bevel gegee.
Luk 6:27 Maar Ek sê vir julle wat luister: Julle moet jul vyande liefhê…
So, as iemand iets lelik aan my doen, is dit vir my heerlik om vir die persoon te bid,
want dit is mos lekker om gehoorsaam te wees en dit is een van die maklike
gehoorsaam wees dinge om te doen.
Om dan op te som.
As iemand my vervloek, of 'n binding op my plaas, soos wat hy of sy dink, steur ek
my nie daaraan nie, behalwe om vir hulle te bid vanweë die dwase ding wat hulle
gedoen het en in elk geval het Salomo in sy groot wysheid gesê.
Spr 26:2 Soos die voëltjie wegfladder, soos die swaweltjie wegvlieg, so is 'n vervloeking sonder oorsaak: dit kom nie uit nie.
Judas 1:24-25
Aan Hom nou wat magtig is om julle vir struikeling te bewaar en julle sonder gebrek voor sy heerlikheid te stel met gejuig,
25.
aan die alleenwyse God, ons Verlosser, kom toe heerlikheid en majesteit, krag en mag, nou tot in alle ewigheid! Amen.
No comments:
Post a Comment
Note: Only a member of this blog may post a comment.