Tekens Is Vir Die Gelowige en Nie Vir Die Ongelowige Nie


 

Ek wil graag met jou deel dit wat jare gelede by my opgekom het toe ek nog as evangelis deur die land gereis het.

Toe ons in 'n sekere dorp kom was daar plakkate van 'n man op, wat ook deur die land gereis en gepreek het.

Volgens sy reputasie toe en ek dink dit is nou nog so, het hy gespesialiseer om siekes gesond te bid.

Op sy plakkate het onder andere die volgende gestaan:

Bring jul siekes na … se diens. Kom en sien wonderwerke gebeur.

Kom kyk hoe blindes weer sien en dowes hoor en lammes weer loop…

Toe my vrou dit vir my lees, was dit vir my so totaal verkeerd.

Jy sien, as mens en nog veel meer as evangelis en of prediker, of herder, of wat ek myself ook al noem moet my strewe in die lewe wees, om God te verheerlik en om myself as werktuig daar te stel om siele vir Sy koninkryk te wen en nie om die kar voor die perde te span deur vir die ongelowiges wonderwerke te wys nie.

Jy sien, ek moet mense na 'n diens lok, om Jesus te ontmoet en nie om tekens te sien nie.

Dit is vir my moeilik om te verstaan, dat mense wat op die oog af die Bybel goed ken nie kan insien dat hulle juis in die hand van die satan werk as hulle so te werk gaan nie.

Kyk hoe stel Jesus dit.


 

Mat 12:38 Toe spreek sommige van die skrifgeleerdes en Fariseërs en sê: Meester, ons wil graag 'n teken van U sien.

Mat 12:39 Maar Hy antwoord en sê vir hulle: 'n Slegte en owerspelige geslag soek na 'n teken, en geen teken sal aan hom gegee word nie, behalwe die teken van die profeet Jona.

Mat 12:40 Want soos Jona drie dae en drie nagte in die buik van die groot vis was, só sal die Seun van die mens drie dae en drie nagte in die hart van die aarde wees.

Mat 12:41 Die manne van Ninevé sal in die oordeel opstaan saam met hierdie geslag en dit veroordeel; want hulle het hul op die prediking van Jona bekeer, en—meer as Jona is hier!

Mat 12:42 Die koningin van die Suide sal in die oordeel opstaan saam met hierdie geslag en dit veroordeel; want sy het gekom van die eindes van die aarde af om die wysheid van Salomo te hoor, en—meer as Salomo is hier!

Mat 12:43 En wanneer die onreine gees uit die mens uitgegaan het, gaan hy deur waterlose plekke en soek rus en vind dit nie.

Mat 12:44 Dan sê hy: Ek sal teruggaan na my huis waar ek uitgegaan het. En hy kom en vind dit leeg, uitgeveeg en versier.

Mat 12:45 Dan gaan hy en neem sewe ander geeste slegter as hy self met hom saam, en hulle kom in en woon daar; en die laaste van daardie mens word erger as die eerste. Só sal dit ook wees met hierdie bose geslag.


 

Ek het 'n kleurling vriend gehad en hy het altyd gesê:

"Nee man, moet nie doekies omdraai nie. Noem die sonde by die naam."

Dit is presies wat ek nou gaan doen.

Jesus sê.


 

Mat 12:39 Maar Hy antwoord en sê vir hulle: 'n Slegte en owerspelige geslag soek na 'n teken, en geen teken sal aan hom gegee word nie, behalwe die teken van die profeet Jona.


 

As jy owerspel pleeg, dan hoereer jy.

So, iemand wat agter wonderwerke aangaan, of dan sy prediking op wonderwerke wil bou, is dus niks anders as 'n teken hoer nie.

Ek druk dit juis sterk uit omdat hierdie soort van prediking sulke verskriklike gevolge het en ek het dit self belewe maar ek kom daarby,

Kom ons keer eers terug na wat Jesus van hierdie saak sê.

Hy begin deur te sê dat iemand wat agter tekens aangaan is besig met owerspel.

Jy moet tog owerspel met iemand pleeg en die geval is die een met wie ek hoereer as ek agter tekens en wonders en of die sensasie aan hardloop niemand anders as satan nie.

Die rede waarom ek my so sterk uitdruk oor die soort van prediking, is omdat Jesus ons wys op die verskriklike gevolge van so 'n godsdiens en ek dit ook self so belewe het.

Kyk wat sê Jesus is die gevolge van so 'n godsdiens.

Nadat Hy klaar met hulle geraas het, omdat hulle tekens soek, verduidelik Hy vir hulle, hoekom Hy met hulle geraas het.


 

Mat 12:43 En wanneer die onreine gees uit die mens uitgegaan het, gaan hy deur waterlose plekke en soek rus en vind dit nie.

Mat 12:44 Dan sê hy: Ek sal teruggaan na my huis waar ek uitgegaan het. En hy kom en vind dit leeg, uitgeveeg en versier.

Mat 12:45 Dan gaan hy en neem sewe ander geeste slegter as hy self met hom saam, en hulle kom in en woon daar; en die laaste van daardie mens word erger as die eerste. Só sal dit ook wees met hierdie bose geslag.


 

Kom ek vertel jou gou wat eendag met my gebeur het.

Daar kom 'n prediker na Rustenburg en omdat hy so beroemd is huur die mense die stadsaal vir hom.

Hulle vra my toe ook om na een van sy dienste te gaan, want hy spesialiseer om siekes gesond te bid en as hy vir my bid sal ek weer kan sien.

Ek is toe saam, ons was omtrent 8 in die groep.

Toe ons daar kom was daar nie eintlik meer plek nie en ons het toe darem plek op die galery gekry.

Die mense in my groep het almal, so ver as wat ek kon vasstel gegaan om wonderwerke te sien.

Daar het toe ook die dag volgens wat aan my vertel was baie wonders gebeur, want toe ons daar weggery het kon die mense wat saam met my was nie genoeg getuig het oor wat hulle gesien het nie.

Ek was uit die aard van die saak, die enigste wat nie 'n wonderwerk gesien het nie.

Ek weet ook nie wat van al die mense geword het wat daardie dag saam met my was nie maar ek kan jou van drie vertel.

Twee van hulle is wat ons sal noem terug in die wêreld en dit wat ek van hulle hoor, gaan ek nie oorvertel nie, aangesien dit wat ek hoor ek nie self getuienis van het nie.

Kom ek vertel jou van die een wat ek van weet en nie op hoorsê nie.

Sy het haar man verlaat vir 'n ander man.

Sy en die man is toe ook uitmekaar en toe het sy begin met 'n lesbiese verhouding.

Nog later, terwyl sy self kleinkinders gehad het, het sy met dwelms gesmokkel, is gevang en die kinders se ma en kleinkinders se ouma moes in die tronk gaan sit.

Dit het blykbaar nie vir haar saakgemaak of die dwelms dalk by haar eie kleinkinders kon uitkom nie.

Wat hierdie, wat ek die "Seeing is believing" godsdiens so tragies maak, is dat Jesus sê dat mense se siele nie so gered kan word nie.


 

Luk 16:27 En hy sê: Ek bid u dan, vader, om hom na my vader se huis te stuur—

Luk 16:28 want ek het vyf broers—om hulle dringend te waarsku, sodat hulle nie ook in hierdie plek van pyniging kom nie.

Luk 16:29 Toe sê Abraham vir hom: Hulle het Moses en die Profete; laat hulle na dié luister.

Luk 16:30 Maar hy antwoord: Nee, vader Abraham, maar as iemand uit die dode na hulle gaan, sal hulle hul bekeer.

Luk 16:31 Maar hy sê vir hom: As hulle na Moses en die Profete nie luister nie, sal hulle nie oortuig word nie, al sou iemand ook uit die dode opstaan.


 

Jesus sê hier, dat as ek in 'n diens sit en daar kom iemand in op wie se begrafnis ek

gister gewees het en ek glo nie dit wat in die Bybel geskryf staan nie sal selfs dit my

nie my laat bekeer nie.

Ek mag soos die mense wat ek jou van vertel het, vir 'n tyd in ekstase wees oor wat ek gesien het maar bekeer sal dit my nie.

Jy sien, voordat ek my bekeer, moet ek eers glo en in 'n neutedop werk glo so.


 

Heb 11:1 Die geloof dan is 'n vaste vertroue op die dinge wat ons hoop, 'n bewys van die dinge wat ons nie sien nie.


 

Heb 11:6 En sonder geloof is dit onmoontlik om God te behaag; want hy wat tot God gaan, moet glo dat Hy is en 'n beloner is van die wat Hom soek.


 

As ek weer van so 'n bietjie galge humor mag gebruik maak.

Dit is ook maar goed dat ware geloof nie bestaan daaruit om wonders en tekens te sien

nie, want my twee oë het nog nooit 'n wonderwerk of teken gesien nie en ek weet ook

nie of dit in ons Here se planne is dat dit gaan gebeur dat ek nog in hierdie lewe sal

sien nie.

Het jy al gedink aan al die wonders en tekens wat Jesus voor der duisende gedoen het.

Die dooies wat Hy opgewek het.

Die blind, lam en siek mense wat Hy gesond gemaak het en luister wat sê die Bybel

was die gevolge.


 

JHN 2:23 En toe Hy in Jerusalem was op die pasga gedurende die fees, het baie in sy Naam geglo, omdat hulle die tekens gesien het wat Hy doen.

JHN 2:24 Maar Jesus self het Hom aan hulle nie toevertrou nie, omdat Hy almal geken het

JHN 2:25 en omdat Hy nie nodig gehad het dat iemand van die mens sou getuig nie; want Hy self het geweet wat in die mens is.


 

Jesus het nie vertroue in daardie soort geloof gehad nie en natuurlik met reg ook, want

kyk wat doen hierdie teken en wonder gelowiges toe.


 

JHN 19:7 Die Jode antwoord hom: Ons het 'n wet en volgens ons wet moet Hy sterf, omdat Hy Homself die Seun van God gemaak het.


 

Toe, nadat Jesus opgevaar het na die hemel, hoeveel van daardie der duisende wat al

daardie wonders en tekens belewe en gesien het, het gelowig gereeld bymekaar

gekom?


 

HAN 1:13 En toe hulle daar kom, gaan hulle na die bovertrek waar hulle gewoond was om te vertoef, naamlik: Petrus en Jakobus en Johannes en Andréas, Filippus en Thomas, Bartholoméüs en Matthéüs, Jakobus, die seun van Alféüs, en Simon, die Yweraar, en Judas, die seun van Jakobus.

HAN 1:14 Hulle almal het eendragtig volhard in gebed en smeking, saam met 'n aantal vroue en Maria, die moeder van Jesus, en met sy broers.

HAN 1:15 En in dié dae het Petrus in die midde van die dissipels opgestaan—die skare van persone daar bymekaar was omtrent honderd en twintig…


 

Na net meer as drie jaar van wonderwerke, of dan tekens, bestaan die Seun van God

se gemeente uit 120.

Wonders, of dan tekens, stig die gelowige, red nie die ongelowige nie.

So Kind van God, verheug jou oor die teken van Jona.

Die graf is leeg, want ons Jesus het na drie dae opgestaan en kyk om jou na die tekens in die wêreld en raak opgewonde, want ons Jesus is op pad.


 

Judas 1:24-25
Aan Hom nou wat magtig is om julle vir struikeling te bewaar en julle sonder gebrek voor sy heerlikheid te stel met gejuig,

25.
aan die alleenwyse God, ons Verlosser, kom toe heerlikheid en majesteit, krag en mag, nou tot in alle ewigheid! Amen.


 

Groete

Sakkie

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.