GEBORE UIT DIE MAAGD MARIA

Omdat ek nie in toeval glo nie, is daar vir my 'n goeie rede waarom net Lukas van die 4 evangeliste die maagdelike geboorte van Jesus noem.

Lukas was 'n dokter en as dokter het hy geweet hoe absoluut onmoontlik dit is vir 'n vrou om as maagd swanger te word.

Nog 'n rede kan natuurlik wees, dat omdat hy 'n dokter was, dit vir Maria makliker sou wees om met hom oor so 'n private intieme saak, vertroulik te gesels.

Daar is ook vir my nog 'n rede wat hier onder nie genome word nie, waarom die maagdelike geboorte van Jesus absoluut waar is.

God wat alles weet wat in die toekoms gaan plaasvind en met ander woorde beplan het hoe ek en jy moet en gaan glo. Hy het toegelaat dat dit in Sy woord vir ons geskryf word.

Dit is Sy Woord, met ander woorde Hy sê dit is wat gebeur het en God se woord is goed genoeg vir my.

Geniet hierdie e-pos wat vir my gestuur was.


 

(Lukas 1:26-37)


 

Gebore uit die maagd Maria


 

Daar word deesdae baie oor die maagdelike geboorte van Jesus gepraat – en gestry. Daar is mense wat sê dat dit nie nodig is om in die maagdelike geboorte te glo nie. Van al vier evangeliste, sê hulle verder, is dit net Lukas wat daarvan melding maak. Die ander noem dit nie eers nie! Wat myself betref, verkies ek om te glo soos die Bybel dit vertel en soos die kerk dit al tweeduisend jaar bely. Daar is ten minste twee redes waarom die leer van die maagdelike geboorte té mooi en té belangrik is om dit in die snippermandjie te gooi:

*Jesus se geboorte was inderdaad anders as enige ander in die geskiedenis. Sy ontvangenis deur die Heilige Gees en sy geboorte in Betlehem, was 'n wonder van God; wat dít wat by mense onmoontlik is, moontlik maak. Soos die engelesang en die ster van Betlehem, vertel die maagdelike geboorte vir my: Trek jou skoene uit. Hier gebeur iets heel unieks.

*Die tweede rede is myns insiens nog belangriker. Daar is min gedeeltes in die Bybel wat vir ons so duidelik illustreer dat ons uit genade alleen gered word, as die maagdelike geboorte van Christus. In die ou dae het die mense die seksuele verkeer tussen 'n man en vrou só gesien: die man is die aktiewe, die een wat gee en presteer. Die vrou is die passiewe, wat haar net kan oopstel om die saad te ontvang wat die man haar gee. Sy kan niks doen nie. Hy doen alles! Maria, so het die gelowiges dit begryp, is ons almal se verteenwoordiger. Ons as mense kan niks doen aan ons eie redding nie. Geen mens kon pa wees van die verlosser nie!

Ons kan maar net ontvang wat God in louter genade aan ons skenk.

Gebed: O Here Jesus, ek bely vandag met vreugde dat ek in u maagdelike geboorte glo. Dit sê vir my alles van U – en van myself!


 

Kopiereg 2004 Radiokansel.


 

Besoek ons webblad by www.radiokansel.co.za


 

Judas 1:24-25
Aan Hom nou wat magtig is om julle vir struikeling te

bewaar en julle sonder gebrek voor sy heerlikheid te stel met gejuig,

25.
aan die alleenwyse God, ons Verlosser, kom toe heerlikheid en

majesteit, krag en mag, nou tot in alle ewigheid! Amen.


 

Groete
Sakkie

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.